Psalms 90 - Bybel vir almal

Wanneer sal U weer jammer wees vir die mense wat vir U dien?

1'n Gebed. Van Moses, die man van God.

Here, ons was veilig by U, al die geslagte lank.

2U was altyd God, voordat die berge daar was,

voordat U die aarde, die wêreld, gemaak het,

en U sal altyd God wees.

3U laat die mens sterf sodat hy weer stof word,

U sê: “Mens, jy moet teruggaan.”

4Want vir U is 1 000 jaar soos gister

wat verby is,

of soos 'n wagbeurt in die nag.

5U laat mense sterf, hulle lewe is soos slaap

wat verby is in die oggend,

hulle is soos plante wat verdwyn.

6In die oggend begin die plante groei,

en in die aand verdwyn hulle.

Hulle word droog, hulle verlep.

7Want wanneer U kwaad is, dan skrik ons en ons sterf.

8U weet wat ons gedoen het wat verkeerd is,

U sien die sondes wat ons wil wegsteek.

9Ja, U bly kwaad vir ons so lank soos ons lewe,

ons lewe gaan baie gou verby.

10Ons lewe sewentig jaar,

of as ons sterk is, dan lewe ons tagtig jaar,

en ons kry die hele tyd swaar,

daar gebeur elke dag slegte dinge.

Ja, dit gaan gou verby, die tyd vlieg.

11Niemand weet wat U alles kan doen

wanneer U kwaad is nie.

Ons is bang vir U wanneer U kwaad is.

12U moet vir ons leer om elke dag so te lewe

dat ons wyse mense sal word.

13Here, wanneer sal U weer jammer wees

vir die mense wat vir U dien?

14U moet ons elke oggend help om te verstaan

dat U doen wat U belowe het,

dan sal ons juig en bly wees,

so lank soos ons lewe.

15U het ons lank laat swaarkry,

dit het lank sleg gegaan met ons.

U moet ons nou lank bly laat wees.

16U moet vir ons, u dienaars, wys wat U doen,

U moet Koning wees, ook Koning van ons kinders.

17Here, ons God, U moet goed wees vir ons,

U moet dit goed laat gaan

met die dinge wat ons doen,

ja, met al die dinge wat ons doen,

U moet dit goed laat gaan met alles wat ons doen.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help