Klaagliedere 3 - Bybel vir almal

Die Here los mense nie vir altyd nie

1Dit is met mý wat dit sleg gegaan het,

want die Here was kwaad

en Hy het my gestraf.

2Ek het gevoel Hy jaag my en Hy bring my

in 'n donker plek waar daar nie lig is nie.

3Dit is net vir my wat Hy aanhou slaan,

elke dag.

4Hy het my vleis en my vel

heeltemal droog laat word

en Hy het die bene in my liggaam gebreek.

5Hy het 'n muur om my gebou,

Hy het my lewe bitter gemaak,

Hy het my laat swaarkry.

6Hy het my laat woon in die donker,

soos mense wat lank gelede dood is.

7Hy het 'n muur rondom my gebou

sodat ek nie kan uitkom nie.

Hy het my vasgebind met swaar kettings.

8Hy wil nie hoor wat ek bid nie,

Hy luister ook nie wanneer ek skree

en bid en vra dat Hy my moet help nie.

9Hy het my pad toegebou met klippe,

Hy het my op 'n ander pad laat loop.

10Hy is soos 'n beer wat lê en wag

om my te vang,

soos 'n leeu wat stilletjies na my toe kruip.

11Hy het my uit die pad gesleep,

Hy het my liggaam stukkend geskeur

en my daar laat lê.

12Hy het sy pyl geneem

en Hy het sy boog se snaar styfgetrek

want Hy wou my skiet.

13Hy het sy pyle in my lewer ingeskiet.

14Al my mense lag vir my,

hulle sing oor my en spot vir my,

die hele dag lank.

15Hy het my lewe baie moeilik

en bitter gemaak,

dit was soos wanneer ek

wilde-als geëet het.

16Hy het my klippies laat kou,

sodat my tande gebreek het.

Hy het my plat getrap op 'n ashoop.

17Daar is niks vrede in my lewe nie,

ek weet nie meer hoe dit voel

wanneer dit goed gaan nie.

18En ek sê: Ek twyfel oor alles,

ek hoop nie meer dat die Here

my sal my help nie.

19Here, U moet onthou dat ek swaarkry,

en dat ek nêrens 'n plek het waar ek

kan woon nie.

Wanneer ek daaraan dink,

dan is dit vir my soos wilde-als en gif.

20Wanneer ek daaraan dink en dink,

dan word ek moedeloos.

21Een ding weet ek, en dit is seker,

en daarom sal ek aanhou hoop:

22Die Here doen altyd wat Hy belowe het,

Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry.

23Here, U doen dit elke nuwe oggend,

U bly altyd dieselfde.

24Ek sê: Die Here is alles wat ek het,

daarom sal ek aanhou hoop.

25Die Here is goed vir mense wat glo

dat Hy hulle sal help,

vir mense wat naby Hom wil wees.

26Dit is goed om stil te bly en te glo

dat die Here jou sal red.

27Dit is goed wanneer iemand

'n juk moes dra

toe hy jonk was,

28wanneer hy alleen moes sit

en moes stilbly omdat die Here

die juk op hom gesit het.

29Dit is goed wanneer iemand

met sy gesig op die grond moet lê.

Miskien kan hy hoop dat iets goed

sal gebeur.

30Dit is goed wanneer iemand

sy wang draai na die persoon toe

wat hom wil klap,

dit is goed wanneer hy aanhou toelaat

dat mense hom spot.

31Want die Here los mense nie vir altyd nie.

32Hy laat mense swaarkry,

maar Hy word weer jammer vir hulle,

Hy doen altyd wat Hy belowe het.

33Ja, die Here doen dit nie graag

met mense nie,

Hy laat hulle nie graag swaarkry nie.

34Die Here sien wanneer mense

slegte dinge doen aan die gevangenes

in die land,

35die Hoogste God sien wanneer mense

nie reg doen aan ander mense nie,

36die Here sien wanneer mense

sê onskuldige mense is skuldig.

37Niemand kan sê dat iets moet gebeur nie,

dit is die Here wat sê dat dit moet gebeur.

38Wanneer die Hoogste God dit sê,

dan gebeur daar dinge, goed of sleg.

39Hoekom kla 'n mens wat lewe?

'n Mens wat lewe, moenie kla nie.

Nee, hy moet sy sonde oorwin.

40Ons moet goed kyk hoe ons lewe,

ons moet baie goed dink daaroor,

en ons moet terugkom na die Here toe.

41Ons moet dink aan God,

ons moet ons hande uitsteek,

ons moet bid tot God in die hemel.

42Ons het sonde gedoen,

ons was opstandig teen U,

en U het ons nie vergewe nie.

43U was kwaad, U het ons gejaag,

U was nie jammer vir ons nie,

U het ons doodgemaak.

44U het Uself toegemaak met 'n wolk,

sodat ons gebede nie by U kon kom nie.

45U het die ander volke laat dink

dat ons niks beteken nie en dat ons stink.

46Al ons vyande is bly

oor wat met ons gebeur het.

47Ons het bang geword,

dit voel of ons in 'n gat geval het.

Ons is alleen en ons is stukkend.

48Die trane vloei uit my oë

soos waterstrome,

ek huil omdat my volk stukkend is.

49My trane sal aanhou vloei,

dit sal nie ophou nie.

50Ek sal aanhou huil

totdat die Here uit die hemel

afkyk en sien wat gebeur.

51Wanneer ek sien wat gebeur

met al die vroue in my stad,

dan word ek baie hartseer.

52Ek het niks verkeerd gedoen nie,

maar my vyande het my gejag

soos 'n mens voëls jag.

53Hulle het my lewendig

in 'n put gegooi

en hulle het klippe op my gegooi.

54Die water het oor my kop gespoel,

ek het gedink ek sal nie uitkom nie.

55Here, ek het daar onder in die put

geskree en gevra U moet my help.

56U het gehoor toe ek gebid het

en gesê het:

“U moenie u ore toehou

wanneer ek skree en vra

dat U my moet red nie!”

57Die dag toe ek geskree het,

het U nader gekom en U het gesê:

“Jy moenie bang wees nie.”

58Here, U het vir my geveg

teen die mense wat my beskuldig het.

U het my lewe gered.

59Here, U het gesien dat mense

verkeerde dinge aan my gedoen het.

U moet oordeel,

U moet sê dat ek nie verkeerd gedoen het nie.

60U het alles gesien wat hulle

met my wou doen.

U weet van hulle planne teen my.

61Here, U het gehoor hoe hulle my spot,

U weet van al hulle planne teen my.

62U weet hoe my vyande teen my praat,

hulle fluister die hele dag oor my.

63U moet hoor, hulle sing en spot my.

Hulle doen dit wanneer hulle sit

en wanneer hulle staan.

64Here, U moet dieselfde doen met hulle

soos hulle met my doen.

U moet hulle straf oor wat hulle doen.

65U moet hulle verstand deurmekaar maak,

U moet hulle vervloek.

66U moet kwaad bly vir hulle,

U moet hulle jaag en U moet hulle doodmaak.

Daar moet niks van hulle oorbly

onder die hemel van die Here nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help