Jesaja 24 - Bybel vir almal

Die Here sal die aarde verwoes

1Die Here sal die aarde verwoes,

en dit sal nou gebeur,

Hy sal die aarde verwoes,

Hy sal dit omgooi,

Hy sal die mense op die aarde

wegjaag na al die kante toe.

2Dit sal met al die mense gaan

soos met die priesters,

dit sal met die slawe en slavinne gaan

soos met hulle eienaars.

Dit sal met die mense

wat goed verkoop,

gaan soos met die mense

wat goed koop.

Dit sal met die mense wat geld geleen het,

gaan soos met die mense

wat geld vir ander mense geleen het.

Dit sal met die mense wat geld skuld,

gaan soos met die mense

vir wie hulle geld skuld.

3Die mense sal die land verwoes

en hulle sal mekaar se goed vat,

want die Here het gesê

dit moet gebeur.

4Die plante op die aarde

sal droog word en verlep,

die hemel sal droog word

saam met die aarde.

5Die mense in die land

het die land ontwy,

want hulle het nie gedoen

wat die Here wil hê nie.

Hulle het die verbond gebreek

wat vir altyd moes aanhou.

6Daarom sal dit sleg gaan

met die mense in die land,

die Here sal hulle straf.

Daarom sal die mense in die land

minder word

en daar sal min mense oorbly.

7Die wingerde sal droog word

en daar sal nie wyn wees nie.

Al die mense sal huil,

die mense wat altyd vrolik was

nadat hulle wyn gedrink het.

8Daar sal nie meer vrolike musiek

van tamboeryne en liere wees nie.

Die mense wat feesgevier het

en geraas het, sal stil wees.

9Hulle sal nie meer wyn drink

en sing nie,

en die bier sal bitter smaak.

10Die stad sal net 'n hoop klippe wees,

daar sal nie mense woon nie,

die huise sal tóé wees,

niemand sal daar kan ingaan nie.

11Op die strate sal die mense huil

omdat daar nie wyn is nie.

Niemand sal vrolik wees nie,

niemand op die aarde

sal vrolik wees nie.

12Alles in die stad sal verwoes wees,

die poorte sal stukkend lê.

13Ja, so sal dit wees tussen die volke op die aarde: Die volke sal min wees. Hulle sal so min wees soos die paar trossies druiwe wat oorbly wanneer mense klaar druiwe gepluk het of soos die paar olywe wat oorbly wanneer die mense klaar olywe afgeslaan het.

Ons sal hoor die mense sing oral op die aarde

14Die mense wat oorgebly het,

sal begin sing,

die mense in die weste sal juig

omdat die Here Koning is.

15Daarom sal die mense in die ooste

ook die Here eer,

die mense in die lande by die see

sal die Naam van die Here prys,

die Here, die God van Israel.

16Ons sal hoor die mense sing

oral op die aarde.

Ons sal hoor hulle prys

die Regverdige God.

Die Here sal almal straf

Maar ek, die profeet, sê

dit gaan sleg met my, baie sleg.

Die mense verraai mekaar,

hulle hou nie op

om mekaar te verraai nie.

17Julle wat op die aarde woon,

julle sal baie bang word,

julle sal in vang-gate val

en hulle sal julle met vangnette vang.

18Wanneer een van julle bang word

en vlug omdat die vyande raas,

dan sal hy in die vang-gat val,

en wanneer hy uit die gat klim,

dan sal hulle hom met 'n vangnet vang.

Ja, en dit sal baie reën,

en die aarde sal bewe.

19Die aarde sal stukkend breek,

die aarde sal stukkend skeur,

die aarde sal heen en weer skud,

20die aarde sal loop soos 'n dronk mens.

Dit sal maklik breek,

soos 'n huisie van takke

wat iemand gebou het

om net een nag daar te slaap.

Die sonde van die aarde

sal te swaar wees om te dra.

Die aarde sal val

en nie weer opstaan nie.

21Daardie dag sal die Here almal in die hemel straf en ook al die konings op die aarde, almal wat dink hulle is sterk.

22Hy sal hulle bymekaarmaak en in 'n tronk toesluit, in 'n put. Ná baie dae sal Hy hulle straf.

23Die maan en die son sal ophou skyn wanneer die Here koning word op Sionsberg en in Jerusalem. Hy sal vir die leiers wys Hy is die Koning.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help