Jesaja 9 - Bybel vir almal

1Die volk wat in die donker gelewe het,

sien 'n groot lig.

'n Lig skyn oor die mense wat gewoon het

in 'n land waar dit baie donker is.

2Here, U het die mense baie meer laat word

en U het hulle baie bly gemaak.

Hulle is voor U so bly

soos in die tyd wanneer hulle die koring afsny.

Hulle juig soos wanneer hulle gewen het in 'n oorlog

en wanneer hulle die vyande se goed vir hulleself vat.

3Ja, hulle was die vyande se slawe,

hulle moes jukke dra,

en die vyande het hulle met kieries geslaan.

Maar U breek die jukke en die kieries

soos daardie dag toe Gideon die Midianiete oorwin het.

4Ja, hulle vat die skoene wat op hulle getrap het

en hulle vat die klere van die soldate

wat party van hulle mense vermoor het,

en hulle verbrand die skoene en die klere.

5Ja, 'n kind is vir ons gebore,

die Here het vir ons 'n seun gegee,

en die kind sal koning word.

Hulle sal hom noem:

Die man wat wonderlike planne kan maak,

Die man wat oorlog kan maak soos God,

Die man wat altyd vader is,

Die koning van vrede.

6Hy sal 'n belangrike koning wees,

en daar sal altyd vrede wees.

Hy sal koning wees soos sy voorvader Dawid,

hy sal regverdig wees

en hy sal altyd reg doen aan almal.

Die Here wat oor alles regeer, sal dit laat gebeur,

want Hy sal ons nie los nie.

Die Here het aangehou om hulle te straf

7Die Here het 'n boodskap gestuur vir die Israeliete,

die nageslag van Jakob het dit gehoor.

8Die hele volk het dit geweet,

die mense van Efraim

en die mense wat in Samaria woon.

Maar hulle is hoogmoedig, hulle sê:

9“Die mure wat ons van klei gebou het, het omgeval,

maar ons sal weer mure bou, ons sal dit van klip bou.

Die vyande het die wildevyebome afgekap,

maar ons sal sederbome plant.”

10Toe het die Here die vyande van koning Resin beskerm

en Hy het vir hulle gesê hulle moet koning Resin aanval.

11Die Arameërs het uit die ooste gekom

en die Filistyne uit die weste,

en hulle het Israel aangeval.

Hulle het die land heeltemal verwoes.

Maar dit was nie genoeg vir die Here nie.

Hy het kwaad gebly en Hy het aangehou om hulle te straf.

12Maar die volk het nie teruggekom na die Here toe nie.

Die Here wat oor alles regeer, het hulle gestraf,

maar hulle wou nie naby Hom wees nie.

13Die Here het op een dag die kop en die stert uit die volk Israel uitgesny,

die palmtak en die biesie.

14Die leiers en die mense wat naby die koning mag kom,

is die kop of die palmtak,

en die profete wat leuens vertel,

is die stert of die biesie.

15Die mense wat die volk moes lei,

het hulle verkeerd gelei,

daarom weet die volk nie waarnatoe hulle moet gaan nie.

16Dit is hoekom die Here

nie meer hou van die jongmense nie

en dit is hoekom Hy nie meer jammer is

vir die weduwees en weeskinders nie.

Hulle is almal sleg en hulle sê dom dinge,

hulle praat nie soos die Here wil hê nie.

Maar dit was nie genoeg vir die Here nie.

Hy het kwaad gebly en Hy het aangehou om hulle te straf.

17Ja, hulle sonde was soos 'n vuur wat brand.

Dit het die dorings en bossies verbrand,

dit het die plante in die bos aan die brand gesteek.

Die rook het in die lug opgegaan.

18Die Here wat oor alles regeer, was kwaad.

Daarom het die vyande die land verwoes,

en daarom het die volk geword soos vuurmaak-hout.

Hulle is nie jammer vir mekaar nie.

19Soos wilde diere wat alles opvreet,

so maak hulle oorlog teen mekaar.

Hulle hou nie op nie,

hulle word swakker en swakker.

20Die Manasse-stam maak oorlog teen die Efraim-stam

en die Efraim-stam maak oorlog teen die Manasse-stam,

en hulle maak saam oorlog teen die Juda-stam.

Maar dit was nie genoeg vir die Here nie.

Hy het kwaad gebly en Hy het aangehou om hulle te straf.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help