Psalms 71 - Bybel vir almal

Ek is swak, U moenie vir my los nie

1Here, ek weet U sal my beskerm,

U moenie dat ek verloor nie.

2U sal reg doen aan my,

U sal my red en my vrymaak.

U moet doen wat ek vra,

U moet my red.

3U moet vir my wees

soos 'n woonplek tussen die rotse

waarnatoe ek altyd kan kom

wanneer U besluit U wil my red,

want net U is my Rots,

my veilige plek in die berge.

4My God, U moet my wegneem

van die mense wat verkeerd doen,

hierdie mense wat sleg en wreed is.

5Ja, my Here, ek weet U sal my help.

Here, ek glo in U vandat ek jonk was.

6Vandat ek gebore is,

was ek seker dat U my sal help.

U was by my vandat ek uitgekom het

uit my ma se liggaam.

Ek wil aanhou om U te prys.

7Daar is baie mense wat na my kyk,

hulle sien dat dit U is wat my beskerm.

8Ek kan nie ophou om U te prys nie,

ek praat die hele dag oor U, die Koning.

9Ek is nou oud, U moenie vir my weggooi nie.

Ek is swak, U moenie vir my los nie.

10Want my vyande praat oor my,

die mense wat wil hê dat ek moet sterf,

maak planne teen my.

11Hulle sê: “God het hom gelos,

julle moet hom jaag en hom gryp,

want daar is niemand wat hom sal red nie.”

12O God, U moenie ver van my wees nie,

my God, U moet gou maak en my help.

13U moet hierdie mense wat my beskuldig,

laat verloor en laat sterf.

Ander mense moet hulle spot en verneder,

hierdie mense wat wil hê

dat dit sleg moet gaan met my.

14En ek?

Ek sal altyd seker wees dat U my sal help,

ek sal U meer en meer prys.

15Ek sal die hele dag vertel

dat U reg gedoen het aan my

en my gered het,

ek weet nie hoeveel maal nie.

16My Here, ek sal kom vertel

van die groot dinge wat U gedoen het.

Here, ek sal sê dit is net U

wat reg gedoen het aan my.

17O God, vandat ek jonk was,

het U vir my geleer

dat U wonderwerke doen,

en ek praat nou nog daaroor.

18Ja, ek is nou oud en my hare is grys,

U moenie nou vir my los nie.

Ek wil vir die nageslag vertel,

vir almal wat later gebore sal word,

dat U sterk is en dat U groot dinge gedoen het.

19O God, U doen reg aan almal

op die aarde en in die hemel.

O God, daar is niemand soos U nie,

U wat groot dinge gedoen het.

20Dit is U wat my baie swaar laat kry het,

dit het gevoel of ek klaar in die graf is,

maar U sal my weer laat lewe,

U sal my weer boontoe laat kom

uit die diep plekke onder die aarde.

21U moet my weer belangrik laat word,

U moet dit weer goed laat gaan met my.

22My God, dan sal ek U ook prys

omdat U altyd dieselfde bly.

Ek sal op die harp speel,

ek sal op die lier speel en vir U sing,

vir U, die Heilige God van Israel.

23Ek sal vrolik skree wanneer ek vir U sing,

ek wat vry is nadat U my vrygemaak het.

24Dan sal ek ook die hele dag aanhou sê

dat U reg gedoen het aan my.

Ja, die mense wat dit sleg wil laat gaan met my,

het verloor, U het hulle verneder.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help