Psalms 9 - Bybel vir almal

Die Here beskerm 'n mens wat homself nie kan beskerm nie

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos die lied “Die dood van die seun.” 'n Psalm van Dawid.

2Here, ek wil U prys met my hele hart,

ek wil vertel van al die wonderlike dinge

wat U doen.

3 Hoogste God, ek wil vrolik en bly wees oor U,

ek wil sing om u Naam te eer.

4Wanneer my vyande voor U moet kom staan,

dan vlug hulle en hulle val en sterf,

5want U het gesê ek is onskuldig,

U het reg gedoen aan my.

U is 'n regverdige Regter

wanneer U op u troon gaan sit.

6U het vir die volke gesê U sal hulle straf,

U het die mense wat verkeerd doen, doodgemaak.

Niemand onthou nou hulle name nie.

7U het ons vyande oorwin,

U het hulle stede verwoes,

en waar die stede was, is nou net hope klippe.

Niemand onthou nou

dat daardie stede daar was nie.

8Die Here regeer vir altyd,

Hy is gereed om te oordeel

wanneer Hy op sy troon gaan sit.

9Hy sal regverdig wees

wanneer Hy die wêreld oordeel,

Hy sal reg doen aan almal

wanneer Hy die volke oordeel.

10Die Here beskerm 'n mens

wat homself nie kan beskerm nie,

Hy beskerm die mense met wie dit sleg gaan.

11Die mense wat vir U ken,

weet dat U sal doen wat U sê,

want U los nie die mense

wat naby U wil wees nie.

12Julle moet vir die Here sing en Hom prys,

die Here wat op Sionsberg woon,

julle moet vir die volke vertel

wat die Here gedoen het,

13want Hy onthou die mense

wat onskuldig gesterf het

en Hy straf die mense

wat vir hulle doodgemaak het.

Hy hoor wanneer mense Hom roep

en vra dat Hy moet help,

mense wat hulleself nie kan beskerm nie.

14Here, U moet jammer wees vir my en U moet my help,

U moet kyk hoe swaar laat my vyande my kry.

Ek is naby die dood, U moet my red.

15Dan sal ek kan vertel

van die wonderlike dinge wat U gedoen het,

dan kan ek in die poorte van Jerusalem juig

omdat U my gered het.

16Die volke het in die gat geval

wat hulle self gegrawe het,

hulle voete sit vas in die vangnet

wat hulle self styfgetrek het.

17Die Here het gewys wie Hy is,

Hy het reg ge-oordeel.

Hy straf die mense wat verkeerde dinge doen.

Higgajon Sela

18Die mense wat verkeerd doen,

al die volke wat vergeet dat daar 'n God is,

sal na die doderyk gaan.

19Ja, die Here sal nie vir altyd

die arm mense vergeet nie.

Die mense wat hulleself nie kan help nie,

kan aanhou hoop dat God hulle sal help.

20Here, U moet nou iets doen,

U moet die mense laat besef

dat hulle nie sterk is nie,

U moet die volke voor U laat kom staan

en U moet hulle oordeel.

21Here, U moet hulle laat skrik,

die volke moet besef dat hulle mense is,

mense wat sal sterf.

Sela

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help