Deuteronomium 32 - Bybel vir almal

Die lied

1Moses het gesê:

“Hemel, jy moet luister,

ek wil praat,

die aarde moet hoor wat ek sê.

2Ek bid dat die dinge

wat ek vir die mense leer,

sal wees soos reën wat drup,

ek bid dat die dinge wat ek sê,

sal wees soos sagte reën op gras,

soos reën op groen plante.

3Want ek wil skree en die Naam

van die Here sê,

ek wil sê dat die Here groot

en goed is.

4Hy is die Rots, sy werk

is heeltemal reg,

Hy doen altyd reg.

Hy is 'n God wat altyd

dieselfde bly,

Hy doen niks verkeerd nie,

Hy is regverdig en eerlik.

5Maar sy volk het ontrou

geword aan Hom,

hulle is nie meer sy kinders nie,

hulle is onrein en vals,

hulle kan net verkeerd doen,

nie reg nie.

6Julle is dwase mense,

julle het nie wysheid nie,

is dit wat julle doen

aan die Here?

Hy is julle Vader,

Hy het julle gemaak.

Hy self het julle gemaak en Hy

het vir julle die lewe gegee.

7Julle moet onthou hoe dit

lank gelede was,

julle moet dink aan die jare

wat lank verby is.

Julle moet vir julle ouers vra,

sodat hulle vir julle kan vertel,

julle moet vir die oumense vra,

húlle sal vir julle sê hoe dit was.

8Toe die Hoogste God

vir die volke hulle lande

gegee het,

toe Hy gesê het dat die mense

aan verskillende volke

moet behoort,

toe het Hy gesê waar die grense

van die lande moet wees.

Hy het gekyk hoeveel Israeliete

daar is,

en Hy het besluit hoeveel volke

daar moet wees.

9Maar die Here het sy éie volk

gekies,

Jakob behoort aan Hom.

10Die Here het sy volk

in die woestyn gekry,

in 'n wilde wêreld waar niemand

woon nie.

Hy beskerm sy volk

en Hy sorg vir hulle,

Hy pas hulle op soos 'n mens

sy oog oppas.

11'n Arend stoot sy kleintjies

uit die nes

en hy vlieg bokant hulle,

hy maak sy vlerke oop

en vang die kleintjies en dra

hulle op sy vlerke.

12So lei die Here sy volk,

Hy alleen doen dit,

daar is nie 'n ander god

by Hom nie.

13Hy het hierdie land vir sy volk

gegee om dit te vat.

Hulle kon die koring eet

wat op die lande groei,

hulle kon heuning uithaal

uit die byneste in die rotse,

hulle kon die olyf-olie kry

van die olyfbome

tussen die klippe.

14Hulle het melk gekry

van beeste, skape en bokke,

hulle het vet vleis gekry

van skaap-lammers

en skaap-ramme,

en vleis van bokke en beeste

uit die land Basan.

Hulle het die beste koring geëet

en die beste rooi wyn gedrink.

15 Jesurun het vet

en opstandig geword.

Ja, julle het vet en dik geword,

spekvet.

Hulle het vir God gelos,

God wat vir hulle gemaak het.

Hulle was dom en opstandig

teen die Rots wat vir hulle

gered het.

16Hulle het vir God

kwaad gemaak toe hulle

gode van ander volke

gedien het.

Hulle het vir God

hartseer gemaak toe hulle

dinge gedoen het

wat Hy haat.

17Hulle het ge-offer

vir veldgode wat nie gode

is nie,

hulle het ge-offer vir gode

wat hulle nie geken het nie,

vir nuwe gode wat hulle

voorvaders nie geken het nie.

18Julle het die Rots vergeet,

maar die Rots is julle Vader,

julle is God se kinders,

maar julle het Hom vergeet.

19Toe die Here dit sien,

was Hy hartseer oor sy seuns

en sy dogters,

Hy het hulle gelos.

20Hy het gesê: ‘Ek wil hulle

nie meer sien nie,

en Ek wil kyk hoe dit nou

met hulle sal gaan.

Hulle is slegte mense,

hulle is heeltemal ontrou.

21Hulle het My kwaad gemaak

toe hulle gode gedien het

wat nie gode is nie.

Hulle het My hartseer gemaak

toe hulle beelde gemaak het,

beelde wat niks beteken nie.

Nou sal Ek hulle kwaad maak

en Ek sal vir My 'n volk kies

wat nie 'n volk is nie,

Ek sal hulle hartseer maak

en Ek sal vir My 'n volk kies

wat dwaas is.

22Ek is kwaad,

dit is soos 'n vuur wat brand

tot in die doderyk

daar onder,

'n vuur wat die aarde verbrand

en alles wat uit die aarde kom,

'n vuur wat tot onder

die berge brand.

23Ek sal hulle laat swaarkry,

dit sal aanhou sleg gaan

met hulle,

Ek sal hulle skiet met al my pyle.

24Hulle sal flou word van honger,

hulle sal pes kry,

hulle sal nie gesond

kan word nie,

wilde diere sal hulle opvreet

en giftige slange

sal hulle pik.

25Daar sal oorlog wees

in die strate,

mense sal bang wees

en wegkruip in hulle kamers.

Niemand sal vry wegkom nie,

nie jongmans

of jongmeisies nie,

nie babas of oumense nie.

26Ek het gedink Ek sal hulle

almal laat sterf,

niemand moet onthou

dat hulle gelewe het nie.

27Maar Ek het gedink miskien

sal die vyande spot

en hulle sal die dinge

wat gebeur het,

verkeerd verstaan.

Hulle sal miskien spog en sê:

“Ons het hulle self oorwin,

die Here het dit nie gedoen nie.” ’

28Ja, die vyande verstaan dit nie,

hulle is nie verstandig nie.

29As hulle wysheid gehad het,

dan sou hulle verstaan het

wat gebeur het

en hulle sou geweet het

wat later nog sál gebeur.

30Een man van die vyand

het 1 000 Israeliete gevolg

en gejaag,

twee manne van die vyand

het 10 000 Israeliete laat vlug.

Maar dit het gebeur omdat

die Rots van die Israeliete

hulle verkoop het,

omdat die Here hulle gelos het.

31Ja, die Here is ons Rots,

die vyande het nie so 'n rots nie,

dit moet hulle weet.

32Hulle is soos 'n wingerdstok

wat in Sodom en Gomorra

gegroei het,

'n wingerdstok wat giftige

druiwe dra.

33Uit daardie druiwe

kom daar wyn

wat so giftig is soos slange,

dit is wyn wat mense laat sterf.

34Die Here sê: ‘Ek sal besluit

wanneer Ek hulle sal straf.

35Ek sal die vyande straf

oor wat hulle gedoen het,

hulle voete gly,

hulle sal gou val.

Die dinge wat met hulle

sal gebeur, sal gou gebeur.’

36Ja, die Here sal reg doen

aan sy volk,

Hy sal genadig wees

vir sy dienaars wanneer Hy

sien dat hulle swak is

en dat min van hulle nog lewe.

37Hy sal vra:

‘Waar is julle gode nou,

die gode wat julle

moet beskerm?

38Waar is die gode wat die vet

van julle offers eet

en die wyn van julle

drank-offers drink?

Hulle moet nou begin

om julle te help,

hulle moet julle beskerm.

39Julle moet nou weet:

Dit is Ek, net Ek.

Daar is nie nog 'n God nie,

net Ek is God.

Ek maak dood en Ek laat lewe,

Ek maak siek

en Ek maak gesond.

Niemand kan my volk wegvat

van My nie.

40Ek tel my hand op na die hemel

en Ek belowe, so seker

soos Ek altyd sal lewe:

41Ek sal my swaard skerpmaak

en Ek sal dit styf vashou

in my hand.

Ek sal my vyande straf oor alles

wat hulle gedoen het,

Ek sal die mense straf

wat My haat.

42Wanneer Ek my pyle skiet

en met my swaard kap,

dan sal daar baie bloed vloei.

Baie mense sal gevangenes

word en hulle sal sterf,

en die leiers van die vyande

sal ook sterf.’

43Die ander volke moet die volk

van die Here prys,

want die Here sal almal straf

wat sy dienaars

doodgemaak het,

Hy sal sy vyande straf oor wat

hulle gedoen het,

Hy sal versoening doen

vir sy land en sy volk.”

44Moses het gekom en hy het al die woorde van hierdie lied vir die volk gesê, hy en Hosea seun van Nun.

45Nadat Moses dit alles klaar gesê het vir al die Israeliete,

46het hy vir hulle gesê: “Julle moet alles goed onthou wat ek vandag vir julle gesê het. Julle moet vir julle kinders sê dat hulle alles moet doen wat hierdie wette sê,

47want dit is belangrik vir julle, dit sal julle laat aanhou lewe en julle sal lank lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”

Die Here sê Moses sal sterf

48Die Here het daardie selfde dag vir Moses gesê:

49“Jy moet opgaan teen die Abarim-berge, teen die Nebo-berg in die land Moab oorkant Jerigo, en jy moet kyk na die land Kanaän wat Ek vir die Israeliete gee om aan hulle te behoort.

50Daarna moet jy sterf op die berg waarteen jy opgegaan het, soos jou broer Aäron ook op Hor-berg gesterf het.

51Dit sal gebeur omdat julle altwee ontrou was aan My by die water van Meriba-Kades in die Sin-woestyn. Die Israeliete het dit gesien. Julle het nie vir die Israeliete gewys dat julle My eer omdat Ek die heilige God is nie.

52Ja, jy mag hier staan en jy mag na die land kyk, maar jy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help