Miga 2 - Bybel vir almal

Julle is slegte mense

1Dit sal sleg gaan met die mense

wat in die nag lê en dink

watter verkeerde dinge

hulle kan doen

en dit die volgende oggend doen.

Hulle dink hulle is sterk

en hulle mag dit doen.

2Hulle wil ander mense se grond hê

en hulle vat dit,

hulle vat 'n man se huis en sy grond.

3Daarom sê die Here:

“Julle is slegte mense.

Ek sal julle straf,

en niemand sal julle red nie.

Julle sal nie meer

so hoogmoedig wees nie.

Julle sal baie swaar kry

in daardie tyd.”

Die Here het ons swaar gestraf

4Die mense sal daardie dag hoor julle praat oor julleself en julle treur. Julle sal sê:

“Die Here het ons swaar gestraf,

Hy gee ons goed vir ander mense.

Hy vat ons grond

en gee dit vir die mense

wat ons verraai het.”

5Ja, wanneer hulle

in die vergadering

van die Here se volk

lootjies trek om te kyk

wie grond moet kry,

dan sal niemand vir julle

lootjies trek nie.

Julle sal niks kry nie.

Julle het die stad onrein gemaak

6Julle sê ek moenie praat nie,

ek moenie so praat nie,

dit sal ons nie help nie.

7Israeliete, julle sê:

“Is die Here nou nie meer

geduldig met ons nie?

Is dit Hy wat hierdie dinge doen?

Die Here belowe goeie dinge

vir mense as hulle reg lewe!”

8Maar die Here sê:

“My volk, julle het lank gelede

my vyande geword.

Julle vat die klere van mense

wat in julle land kom

en wat dink hulle is veilig by julle.

Julle vat ook die klere

van julle soldate

wat terugkom van die oorlog.

9Julle jaag die vroue van my mense

uit hulle mooi huise.

Julle vat ook die mooi goed

wat Ek vir hulle kinders gegee het

om altyd aan hulle te behoort.

10Julle moet opstaan en begin loop,

julle sal nie hier bly nie.

Julle het die stad onrein gemaak.

Die vyande sal die stad verwoes,

heeltemal verwoes.”

11Hierdie mense wil 'n profeet hê

wat lieg en bedrieg.

Hulle wil 'n profeet hê wat sê:

“Gee vir my wyn en bier,

dan sal ek vir julle

'n profeet wees.”

Julle maak of my volk diere is

12Julle sê die Here sê:

“Israeliete, Ek sal al julle mense

bymekaarmaak.

Ek sal die mense van Israel

wat nog lewe,

bymekaarmaak soos skape

en bokke in 'n kraal,

soos 'n klomp skape in die veld.

Die land sal weer vol mense wees.

13Ek sal hulle bring uit die lande

waar hulle nou is,

Ek sal voor hulle loop,

en hulle sal weer by Jerusalem

se poorte ingaan en uitgaan.

Ek is die Here, hulle Koning,

Ek sal voor hulle loop,

Ek sal hulle lei.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help