Jesaja 50 - Bybel vir almal

Dink julle Ek kan julle nie vrymaak nie?

1Die Here sê:

“Julle dink Ek het julle weggejaag

soos wanneer 'n man skei van sy vrou.

Ek het julle nie weggejaag nie.

Julle dink Ek het julle verkoop,

soos wanneer 'n man geld skuld

en sy kinders moet verkoop.

Ek het julle nie verkoop nie.

Julle het julleself verkoop

toe julle baie sondes gedoen het,

julle was opstandig teen My,

julle het self weggeloop.

2Ek het na julle toe gekom

om julle te help.

Hoekom was daar niemand nie?

Ek het julle geroep.

Hoekom het niemand geantwoord nie?

Dink julle Ek kan julle nie

vrymaak nie?

Dink julle Ek is nie sterk genoeg

om julle te red nie?

Julle moet dit weet:

Wanneer Ek kwaai praat,

dan word die see droog,

en die riviere word 'n woestyn.

En dan het die visse nie water nie,

hulle vrek en stink.

3Dit is Ek wat die lug donker laat word

en dan lyk dit of die lug rouklere dra.”

Die Here help sy dienaar

4Die dienaar van die Here sê:

“Die Here het vir my geleer om goed te praat.

Ek weet wat om te sê sodat mense

wat moeg is, weer sterk kan voel.

Die Here laat my elke oggend wakker word

en Hy maak my ore oop

sodat ek goed kan luister.

5Die Here het vir my geleer om te luister,

en ek was gehoorsaam aan Hom,

ek was nie opstandig nie.

6Die mense het my op my rug geslaan

en hulle het my baard uitgetrek,

maar ek het stil gestaan.

Hulle het probeer om my te verneder

en hulle het in my gesig gespoeg,

maar ek het nie my gesig weggedraai nie.

7Ja, die Here help my, daarom kon die mense

my nie verneder nie.

Die Here help my, daarom het ek my gesig

hard gemaak soos klip.

Ek weet hulle sal my nie verneder nie.

8Die Here sal wys dat ek reg is

en dat Hy naby my is.

Wie wil my hof toe vat?

Kom ons gaan saam daarnatoe.

Wie wil my beskuldig?

Hy moet kom en dit doen.

9Julle moet dit weet, die Here help my.

Wie is dit wat wil sê ek is skuldig?

Dit sal sleg gaan met al my vyande.

Hulle sal word soos klere

wanneer motte dit vreet.

10“Daar is ook mense wat die Here dien

en wat luister na my, sy dienaar.

Dit gaan sleg met my,

dit is donker rondom my,

maar daardie mense moet glo in die Here,

hulle moet weet dat Hy sal help.

11Maar julle wat vure aansteek

om my te brand,

julle wat my skiet met brandpyle,

julle sal self brand in die vuur

wat julle aansteek.

Die brandpyle sal in julle steek.

Die Here sal dit doen.

Julle sal op die grond lê en rol,

want julle sal baie pyn hê.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help