Joël 3 - Bybel vir almal

Ek sal die volke straf

1Die Here sê:

“In daardie tyd sal Ek

dit weer goed laat gaan

in Juda en in Jerusalem.

2Ek sal al die volke

bymekaarmaak

en Ek sal hulle vat

na die Josafat-vallei.

Daar sal Ek die volke straf

oor wat hulle gedoen het

aan my volk,

die Israeliete wat aan My behoort.

Die volke het my volk weggevat

na ander lande

en hulle het my land

vir hulleself gevat.

3Hulle het my mense

slawe laat word,

hulle het lootjies getrek

om te kyk wie kry 'n slaaf.

Hulle het my seuns

en my dogters verkoop

om prostitute en wyn te kry.

4En julle, mense van Tirus en Sidon

en die hele Filistyne-land,

wat wil julle met My doen?

Wil julle My straf

omdat ander volke

slegte dinge aan julle gedoen het?

As julle My wil straf,

dan sal Ek nie wag

om julle te straf nie.

Ek sal julle straf

oor alles wat julle

verkeerd gedoen het.

5Julle het my silwer

en goud gevat,

julle het die mooiste goed

in my tempel

na julle tempels toe gevat.

6Julle het die mense

van Juda en Jerusalem

verkoop aan die Grieke,

ver weg van my mense se land.

7Nou sal Ek my mense

laat terugkom

van die plekke

waarnatoe hulle gegaan het

toe julle hulle verkoop het.

Ek sal julle straf oor alles

wat julle met my volk gedoen het.

8Ek sal julle seuns

en dogters verkoop

aan die mense van Juda,

en hulle sal julle seuns

en dogters verkoop

aan die mense van Skeba,

die volk wat ver van hier woon.”

Die Here het dit gesê.

Ek is julle God die Here

9Julle moet vir die volke skree

en sê:

“Julle moet gereedmaak

en julle moet gaan oorlog maak.

Roep die soldate,

al die soldate moet kom

en hulle moet gaan oorlog maak.

10Julle moet swaarde

en spiese maak

van die skerp ysters

waarmee julle ploeg

en bome se takke afsny.

'n Man wat nie sterk is nie,

moet ook sê:

‘Ek is 'n soldaat!’

11Die volke wat daar naby woon,

moet gou maak en bymekaarkom,

en die Here moet sy soldate bring.

12Die volke moet

na die Josafat-vallei kom,

want daar sal Ek die regter wees.

Ek sal die volke straf wat naby woon.

13Dit is nou die tyd om hulle te straf.

Die volke is soos koring wat ryp is.

Bring die sekel

en sny hulle af!

Trap die druiwe,

want die parskuip is vol,

dit loop oor.

Daar is baie slegte mense

vir wie Ek sal straf!

14Daar sal baie mense wees,

baie mense, op daardie plek

waar die Here die mense

sal oordeel.

Die dag van die Here is naby,

die dag wanneer Hy

die mense sal oordeel.

15Die son en die maan

sal donker word,

die sterre sal nie meer skyn nie.

16Die Here sal hard praat

uit Jerusalem,

so hard soos 'n leeu wat brul.

Die hemel en die aarde sal bewe,

maar die Here

sal sy volk beskerm.

Die Israeliete sal veilig wees

by Hom.

17Dan sal julle weet dat Ek,

die Here, op Sionsberg woon.

Ek is julle God die Here,

en Sion is my gewyde berg.

Jerusalem sal 'n gewyde stad wees.

Vyande sal nooit weer

deur die stad gaan nie.”

Dit sal goed gaan

18“In daardie tyd sal dit goed gaan,

daar sal baie wyn en melk wees,

dit sal teen die berge

en die heuwels afloop.

Daar sal water wees

in al die klein riviere in Juda,

en daar sal water kom

uit 'n fontein wat in die

tempel van die Here is.

Die water sal die Sittim-vallei

natmaak.

19Niemand sal in Egipte

kan woon nie.

Edom sal 'n woestyn word,

niks sal daar kan lewe nie,

want die mense

van Egipte en Edom

het wrede dinge gedoen

aan die mense van Juda,

hulle het die mense van Juda vermoor.

20Maar in Juda en Jerusalem

sal altyd mense woon.

21Ek sal die mense straf

wat Ek nog nie gestraf het nie.

Ek sal hulle straf,

want hulle het mense vermoor,

en Ek, die Here,

sal in Jerusalem woon.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help