Amos 8 - Bybel vir almal

Die Israeliete sal val en hulle sal nie weer opstaan nie

1Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Daar was 'n mandjie vrugte,

2en die Here het vir my gevra: “Amos, wat sien jy?”

Toe sê ek: “Ek sien 'n mandjie vrugte. Hulle is ryp en dit is tyd om hulle te eet.”

Die Here het toe vir my gesê:

“Dit is nou die tyd.

Ek sal my volk, die Israeliete,

se sonde nie weer vergewe nie.

3Wanneer Ek kom om hulle te straf,

dan sal die mense in die koning se paleis

nie meer sing nie,

hulle sal huil.

Daar sal baie lyke wees.

Die vyande sal nie praat nie,

hulle sal die lyke

oral op die grond gooi.

4“Luister na wat Ek sê.

Julle doen slegte dinge

aan die arm mense,

julle wil die mense

wat niks het nie, doodmaak.

5Julle sê:

‘Wanneer is

die Nuwemaan-fees verby?

Dan kan ons weer koring verkoop.

Wanneer is die Sabbatdag verby?

Dan kan ons weer

ons koringwinkels oopmaak

en skelm wees.

Wanneer ons die koring weeg,

dan sal ons die mense te veel laat betaal.’

6Julle verkoop ook

die koring se kaf

en julle verkoop arm mense

omdat hulle geld skuld

vir 'n paar sandale.

Dan word die mense slawe.”

7Die Here het belowe,

en Hy is self die getuie.

Hy is God.

Die Israeliete moet Hom eer.

Hy het gesê:

“Ek sal altyd onthou

wat julle gedoen het.

8Die mense van die land

sal bang word hieroor en bewe.

Almal wat hier woon,

sal huil en treur.

Al die mense in die land

sal skrik en wegvlug

soos die water in die Nyl-rivier

wat vol word en wegloop.”

9Die Here sê:

“Op daardie dag sal Ek die son

in die middel van die dag

laat ondergaan.

Ek sal dit donker maak

op die aarde

wanneer dit nog dag is.

10Ek sal alles verander.

Julle sal nie feesvier nie,

julle sal treur.

Julle sal nie sing nie, julle sal huil

oor almal wat dood is.

Julle sal rouklere aantrek

en julle koppe kaal skeer.

Julle sal rou soos iemand

wat rou oor sy enigste kind

wat dood is.

Dit sal vir julle

'n baie slegte dag word.”

11Die Here het gesê:

“Daar sal 'n tyd kom

wanneer Ek almal in die land

honger sal maak.

Maar hulle sal nie honger wees

vir kos of dors wees vir water nie.

Hulle sal honger wees

vir die woorde van die Here.

12Hulle sal soek van die een see

tot by die ander see.

Hulle sal oral soek,

van die noorde tot by die ooste,

om te hoor wat die Here sê,

maar hulle sal niks hoor nie.

13Mooi meisies en jongmans

sal daardie dag

baie dors word en flou val.

14Wanneer hulle iets belowe het,

dan het hulle altyd gesê:

‘Die afgod van Samaria

is die getuie,’

of hulle het vir die stad Dan gesê:

‘So seker

soos jou god lewe!’

of: ‘So seker soos daar

'n pad is na die stad Berseba!’

Maar hulle sal val,

hulle sal nie weer opstaan nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help