Numeri 1 - Bybel vir almal

Moses en Aäron tel die Israeliete

1Die Here het met Moses gepraat in die Sinai-woestyn in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Dit was op die eerste dag van die tweede maand nadat die Israeliete uit Egipte gekom het. Die Here het gesê:

2“Julle moet al die mense van die volk Israel tel. Julle moet elkeen se naam in 'n boek skryf, en julle moet ook skryf van wie se nageslag hy is en aan watter familie hy behoort.

3Moses, jy en Aäron moet dit doen. Julle moet in die boek die naam skryf van elke man wat 20 jaar of ouer is, elkeen wat oorlog kan maak, en ook by watter groep van die leër hy moet wees.

4Een persoon van elke stam, 'n familiehoof, moet vir julle help.

5Hier is die name van die persone wat vir julle moet help:

“Van die stam Ruben: Elisur

seun van Sedeür,

6van Simeon: Selumiël

seun van Suri-Saddai,

7van Juda: Nagson

seun van Amminadab,

8van Issaskar: Netanel

seun van Suar,

9van Sebulon: Eliab

seun van Gelon,

10van die nageslag van Josef,

van Efraim: Elisama

seun van Ammihud,

van Manasse: Gamliël

seun van Pedasur,

11van Benjamin: Abidan

seun van Gidoni,

12van Dan: Agiëser

seun van Ammi-Saddai,

13van Aser: Pagiël

seun van Okran,

14van Gad: Eljasaf

seun van Deüel,

15van Naftali: Agira

seun van Enan.

16“Ek het hierdie stamhoofde uit die volksvergadering gekies. Hulle is die hoofde van die groepe in die leër van Israel.”

17Nadat die Here hierdie manne gekies het, het Moses en Aäron hulle geneem

18en die hele volksvergadering laat bymekaarkom op die eerste dag van die tweede maand. Elke man wat 20 jaar of ouer was, moes sê van wie se nageslag hy is en aan watter familie hy behoort.

19Dit was wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het in die Sinai-woestyn hulle name in die boek geskryf.

20-46Moses en Aäron en die twaalf leiers het die manne getel wat 20 jaar of ouer was, elkeen wat oorlog kon maak. Hulle het opgeskryf van wie se nageslag elke persoon is, aan watter familie hy behoort en by watter groep van die leër hy moet wees. Hier is die getalle van die manne van die nageslag van die stamvaders:

Ruben, die oudste seun

van Israel: 46 500 manne

Simeon: 59 300

Gad: 45 650

Juda: 74 600

Issaskar: 54 400

Sebulon: 57 400

Efraim seun van Josef: 40 500

Manasse seun van Josef: 32 200

Benjamin: 35 400

Dan: 62 700

Aser: 41 500

Naftali: 53 400

Almal saam: 603 550 manne.

Die werk van die Leviete

47Moses-hulle het nie die manne van die Levi-stam saam met die ander Israeliete getel nie.

48Die Here het vir Moses gesê:

49“Jy moenie die name van die Leviete in hierdie boek skryf nie, jy moet hulle nie saam met die ander Israeliete tel nie.

50Jy self moet vir die Leviete sê wat hulle moet doen. Hulle moet sorg vir die tempel-tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tempel-tent. Hulle moet ook sorg vir al die stukke wat by die tempel-tent moet wees. Hulle moet die tempel-tent dra en daarmee werk en hulle moet hulle tente rondom die tempel-tent opslaan.

51Wanneer hulle die tempel-tent na 'n ander plek moet neem, dan moet die Leviete dit afslaan, en wanneer die tempel-tent op 'n nuwe plek moet staan, dan moet die Leviete dit opslaan. Wanneer 'n ander persoon naby die tempel-tent kom, dan moet julle hom doodmaak.

52Elke stam van Israel moet hulle tente opslaan op hulle eie plek en by hulle eie vlag in hulle groepe.

53Maar die Leviete moet hulle tente opslaan rondom die tent waarin die kis en die tien gebooie is. Hulle moet dit doen sodat die Here nie kwaad word en die volk Israel straf nie. Die Leviete moet werk met die tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tent.”

54Die Israeliete het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het dit presies so gedoen.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help