Spreuke 15 - Bybel vir almal

Wanneer wyse mense praat

1Wanneer jy vir iemand mooi antwoord,

dan sal hy ophou om kwaad te wees,

maar wanneer jy dinge sê wat iemand seermaak,

dan maak jy hom kwaad.

2Wanneer wyse mense praat,

dan leer 'n mens, en dit is lekker.

Maar wanneer dwase praat,

dan sê hulle net dom dinge.

3Die Here sien oral,

Hy sien wat slegte mense doen

en Hy sien wat goeie mense doen.

4Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan,

dan laat hy mense lewe,

maar wanneer hy dinge sê wat vals is,

dan maak hy mense moedeloos.

5Dit is 'n dwaas wat dink dat die dinge

wat sy pa vir hom leer, nie belangrik is nie,

maar iemand wat onthou wat sy pa vir hom sê,

is verstandig.

6Iemand wat reg lewe, word baie ryk,

maar as 'n mens verkeerd doen,

dan sal die goed wat hy kry,

dit sleg laat gaan met hom.

7Wanneer wyse mense praat,

dan leer hulle vir baie mense om dinge te weet,

maar dwase dink net oor dinge wat nie reg is nie.

8Die Here haat die offers wat mense bring

wat verkeerd doen,

maar Hy aanvaar die gebede van eerlike mense.

9Die Here haat dit wanneer mense verkeerd doen,

maar Hy hou van mense wat altyd probeer om reg te doen.

10Die Here sal die mens straf wat ophou om reg te lewe.

Die mens wat dit haat wanneer iemand vir hom wil leer,

sal sterf.

11Die Here ken die doderyk en die onderwêreld,

maar Hy ken die harte van mense nog beter.

12Iemand wat altyd wil spot, hou nie daarvan

dat jy vir hom sê hoe hy moet lewe nie,

hy gaan vra nie vir wyse mense

wat hy moet doen nie.

13Wanneer iemand bly is,

dan sal sy gesig gelukkig lyk,

maar wanneer hy hartseer is,

dan sien jy hy is moedeloos.

14'n Verstandige mens probeer altyd meer weet,

maar dwase is tevrede om dom te bly.

15Dit gaan altyd sleg met iemand

wat homself nie kan help nie,

maar vrolike mense geniet altyd die lewe.

16Dit is beter om min te hê

en die Here te respekteer en te dien,

beter as om baie goed te hê en ook probleme te hê.

17Dit is beter om net groente te eet

en te weet dat mense lief is vir jou,

beter as om die vleis van 'n vet bees te eet

en te weet dat mense jou haat.

18'n Mens wat gou kwaad word, sal twis en stry,

maar 'n geduldige mens maak vrede.

19'n Lui mens se lewe is soos 'n pad vol dorings,

eerlike mense se lewe is soos 'n goeie pad.

20'n Pa en ma is bly wanneer hulle kinders

wysheid het,

maar 'n dwaas dink sy ouers is nie belangrik nie.

21Iemand wat nie baie verstand het nie,

is bly omdat hy dwaas is,

'n verstandige mens doen dinge wat reg is.

22As jy nie vra wat jy moet doen nie,

dan sal jou planne nie slaag nie,

maar as jy baie raadgewers het,

dan sal jou planne slaag.

23Dit is lekker wanneer 'n mens weet

wat om te antwoord,

dit is die beste om die regte woord

op die regte tyd te sê.

24'n Verstandige mens loop op die pad van die lewe,

daardie pad gaan boontoe.

'n Verstandige mens loop nie op die pad na die doderyk nie,

daardie pad gaan ondertoe.

25Die Here breek die huis van hoogmoedige mense af,

maar Hy beskerm die grond van die weduwee.

26Die Here haat dit wanneer mense planne maak

om slegte dinge te doen,

maar Hy hou van vriendelike woorde.

27Iemand wat altyd meer wil hê as wat hy moet kry,

laat dit sleg gaan met sy huisgesin,

maar iemand wat nie presente wil neem

om verkeerde dinge te doen nie, sal lewe.

28'n Mens wat reg lewe,

dink eers goed voordat hy antwoord,

maar mense wat verkeerd doen,

hou aan om slegte dinge te praat.

29Die Here is ver van mense wat verkeerd doen,

maar Hy hoor wanneer mense wat reg lewe,

tot Hom bid.

30Wanneer iemand vriendelik is,

dan maak hy mense bly.

Goeie nuus laat mense goed voel.

31Iemand wat luister wanneer mense vir hom sê

dat hy verkeerde dinge doen,

sal saam met wyse mense kan woon.

32Iemand wat nie wil leer nie,

dink dit is nie belangrik wat met hom gebeur nie,

iemand wat luister wanneer mense vir hom sê

wat hy verkeerd doen, word verstandig.

33As iemand wysheid wil leer,

dan respekteer en dien hy die Here.

'n Mens moet nederig wees,

dan sal ander mense hom respekteer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help