Jesaja 2 - Bybel vir almal

1Die Here het vir Jesaja gewys wat sal gebeur met Juda en Jerusalem. Jesaja was die seun van Amos.

Ons moet lewe soos die Here vir ons sê(Ook Miga 4:1-3)

2Eendag sal die berg

waarop die Here se tempel staan,

hoër wees en vaster staan

as die ander berge en heuwels.

Baie volke sal na hierdie berg kom.

3Die mense van baie volke sal kom

en hulle sal sê:

“Kom ons gaan op teen die berg van die Here,

na die tempel van die God van Jakob.

Dan sal Hy vir ons leer wat ons moet doen,

en dan kan ons so lewe.

Ons moet na Jerusalem gaan,

dan sal ons weet wat die Here wil hê ons moet doen

en wat Hy vir ons wil sê.”

4Die Here sal die regter wees

tussen die volke,

Hy sal die baie volke vrede laat maak met mekaar.

Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt

en hulle sal daarvan skerp ysters maak om te ploeg

en messe om bome se takke af te sny.

Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie

en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie.

5Kom, nageslag van Jakob,

kom ons lewe soos die Here vir ons sê.

Die dag van die Here sal kom

6Waarlik, U het u volk gelos, die nageslag van Jakob

want hulle probeer om waarsêers te wees

soos die mense in die ooste en soos die Filistyne.

Hulle klap hulle hande

en probeer om die bose geeste weg te jaag,

soos die mense van ander lande.

7Die land Juda is vol silwer en goud,

die mense is baie ryk.

Daar is baie perde in die land

en die mense het baie oorlogkarre.

8Die land is vol afgode.

Die mense buig voor goed wat hulle self gemaak het.

9Here, daarom moet U die mense laat buig

en U moet hulle verneder.

U moet hulle nie vergewe nie.

10Julle moet wegkruip agter rotse en in gate in die grond,

want die Here kom.

Wanneer Hy kom, dan sal julle bewe,

want Hy is die Koning.

11Die hoogmoedige mense sal nie weer trots kan wees nie,

hulle sal moet buig voor Hom.

Net die Here sal op daardie dag belangrik wees.

12Ja, die dag van die Here sal kom,

die Here wat oor alles regeer.

Hy sal téén al die hoogmoedige mense wees,

teen almal wat dink hulle is belangrik.

13Hy sal téén al die hoë bome op Libanon-berg

en in die land Basan wees,

14ook teen al die hoë berge en heuwels,

15teen elke hoë toring en elke sterk muur,

16teen al die mooi skepe wat na die land Tarsis gaan.

17Die hoogmoedige mense sal moet buig,

die mense wat dink hulle is belangrik,

sal verneder word.

Net die Here sal op daardie dag belangrik wees.

18Die afgode sal heeltemal verdwyn.

19Die mense sal wegkruip agter rotse en in gate in die grond,

want die Here sal kom.

Hy sal die aarde skud.

Almal sal voor Hom bewe, Hy is die Koning.

20Daardie dag sal die mense hulle afgode weggooi

en hulle sal dit vir die rotte en die vlermuise gee,

die afgode van silwer en goud wat hulle gemaak het,

die afgode voor wie hulle gebuig het.

21Hulle sal wegkruip in grotte in die berge

en tussen klippe,

want die Here sal kom.

Hy sal die aarde skud.

Almal sal bewe voor Hom, Hy is die Koning.

22'n Mens beteken niks.

As hy nie asemhaal nie, dan sterf hy.

Julle moenie dink 'n mens kan julle help nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help