Job 12 - Bybel vir almal

Job sê sy vriende lag vir hom

1Job het geantwoord, hy het gesê:

2“Is dit waar, is julle nou

die enigste mense wat wysheid het!

3Ek het ook verstand soos julle,

ek is nie dommer as julle nie.

Almal weet die dinge wat julle sê.

4My vriende lag nou vir my.

Ek het na God geroep en gevra

dat Hy my moet antwoord.

Ek het heeltemal reg gelewe,

maar hulle lag vir my.

5As iemand self lekker lewe, dan dink hy

dat hy kan spot met 'n man wat swaarkry,

hy dink dat hy kan trap op 'n man wat val.

6Die mense wat alles wil verwoes,

woon stil en rustig,

hulle is nie bekommerd nie.

Die mense wat vir God kwaad maak,

voel veilig,

hulle dink dat hulle met God kan doen

wat hulle wil.”

Job sê die diere en die plante kan vir sy vriende leer

7“Maar jy moet vir die diere vra,

hulle sal vir jou leer,

die voëls sal dit vir jou sê,

8jy moet vir die plante op die grond vra,

hulle sal vir jou leer,

die visse sal dit vir jou sê.

9Hulle almal weet dat die Here

hierdie dinge laat gebeur,

10die Here besluit of 'n mens sal lewe,

Hy besluit of 'n mens sal asemhaal.

11Ons het ore om te hoor

wat woorde beteken,

ons het tonge om te proe

hoe kos smaak.

12Die wysheid kom wanneer jy

oud geword het,

jy word verstandig ná baie jare.”

Job sê die Here weet wat Hy doen

13“Maar dit is die Here wat wysheid het

en wat sterk is.

Dit is Hý wat weet wat Hy doen.

14Wanneer Hy afbreek,

dan kan niemand bou nie.

Wanneer Hy 'n mens toesluit,

dan kan niemand oopmaak nie.

15Wanneer Hy dit nie laat reën nie,

dan is dit droog.

Wanneer Hy reën stuur,

dan verander die aarde.

16Die Here is sterk,

Hy het ware wysheid,

Hy regeer oor die mense

wat ander mense bedrieg.

Hy regeer ook oor die mense

vir wie hulle bedrieg.

17Hy laat raadgewers van konings arm word,

Hy laat regeerders dom dinge doen.

18Hy maak die bande los

waarmee konings mense bind

en Hy laat konings self

die klere dra van slawe.

19Hy laat priesters arm word

en Hy laat mense val wat dink

dat hulle sterk is.

20Hy laat mense stilbly

wat vir ander mense kan sê

wat hulle moet doen

en Hy keer sodat leiers

nie goed kan dink nie.

21Hy verneder belangrike mense

en Hy keer sodat sterk mense

nie goed kan veg nie.

22Hy laat mense moeilike dinge verstaan,

Hy maak lig waar dit donker is.

23Hy laat volke belangrik word

en Hy laat hulle verdwyn,

Hy laat volke groot word en Hy besluit

wat met hulle sal gebeur.

24Hy laat die leiers van 'n land se mense

onverstandig word,

hulle weet nie wat hulle doen nie.

25Hulle word soos mense wat in die

donker loop,

soos dronk mense wat nie weet waarnatoe

hulle gaan nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help