Spreuke 2 - Bybel vir almal

Hoe sal jy vir God leer ken?

1My seun, hoe sal jy vir God leer ken?

As jy luister na my

en onthou wat ek vir jou sê,

2as jy goed luister na wysheid

en regtig probeer verstaan,

3ja, as jy sê jy wil verstaan,

as jy vra hoe jy verstandig kan word,

4as jy dit so graag wil hê

soos jy geld wil hê,

en daarna soek

soos jy na kosbare dinge sal soek,

5dan sal jy verstaan

hoe jy die Here moet dien,

dan sal jy vir God leer ken.

6Want dit is die Here wat wysheid gee,

Hy sal vir jou leer om te weet

en te verstaan.

7Hy gee vir eerlike mense ware wysheid,

Hy beskerm mense wat heeltemal reg lewe.

8Hy laat hulle altyd reg doen,

Hy beskerm die lewe van die mense

wat aan Hom behoort.

9As jy luister na my, dan sal jy verstaan

wat dit is om reg te lewe en reg te doen

en regverdig te wees,

jy sal altyd op die regte pad loop

en die regte dinge doen.

10Die wysheid sal in jou kom woon

en dit sal vir jou lekker wees

om dinge te weet.

11As jy verstandig en versigtig is,

dan sal jy veilig wees.

12Dit sal jou help om nie verkeerd te lewe nie,

dit sal jou red van mense

wat jou wil bedrieg,

13want hulle is mense wat opgehou het

om die regte dinge te doen

en wat in die donker loop.

14Dit is vir hulle lekker

om verkeerd te doen,

hulle juig wanneer 'n slegte mens

iemand wil bedrieg.

15Hulle is mense wat nie op die regte pad

kan loop nie,

hulle hou aan om verkeerd te lewe.

Die wysheid sal jou red van die slegte vrou

16As jy luister na my,

dan sal dit jou red van die slegte vrou,

'n ander man se vrou wat jou wil verlei,

17die vrou wat haar eie man gelos het

en wat die ooreenkoms vergeet het

wat sy voor haar God gemaak het.

18In haar huis is jy naby die dood.

As jy saam met haar gaan,

dan is jy al klaar op die pad

na die mense wat dood is.

19Mense wat na haar toe gaan,

kom nie terug nie,

hulle kom nie weer op die pad

van die mense wat lewe nie.

20Jy moet luister na my,

sodat jy kan lewe soos goeie mense lewe,

sodat jy kan lewe soos mense wat reg doen,

21want dit is die eerlike mense

wat in die land sal woon.

Die mense wat heeltemal reg lewe,

sal aanhou lewe in die land.

22Maar die mense wat verkeerd doen,

vir húlle sal God wegvat uit die land.

Hy sal die mense wat ontrou is aan Hom,

wegvat uit die land.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help