Numeri 23 - Bybel vir almal

1Bileam sê toe vir Balak: “Jy moet hier sewe altare bou en jy moet sewe bulle en sewe skaap-ramme gereedmaak om te offer.”

2Balak het gedoen wat Bileam gesê het, en hulle twee het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer.

3Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly hier en staan by jou brand-offer, dan sal ek alleen weggaan. Miskien sal die Here na my toe kom en vir my wys wat ek vir jou moet sê.”

Bileam het toe na 'n plek op die berg gegaan waar daar nie bome is nie.

4Toe God by Bileam kom, het Bileam vir God gesê: “Ek het sewe altare laat bou en ek het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer.”

5God sê toe vir Bileam wat hy moet sê, en Hy sê Bileam moet teruggaan na Balak toe en hy moet dit vir Balak sê.

6Bileam het teruggekom by Balak. En daar staan Balak toe nog by sy brand-offer, hy en die amptenare van Moab.

7En toe begin Bileam praat. Hy het gesê:

“Balak het my laat kom

van die land Aram,

van die berge in die ooste.

Hy het gesê:

‘Kom vervloek die nageslag

van Jakob vir my,

kom sê dat dit sleg moet gaan

met Israel.’

8Maar as die Here nie die volk

vervloek nie,

dan kan ek ook nie vir hulle

vervloek nie.

Die Here het nie gesê dat dit

sleg moet gaan met hulle nie.

Kan ék dan sê dat dit sleg

moet gaan met hulle?

Nee.

9Want ek is hier bo-op die rotse

en ek sien die volk

van hier bo af,

ek kyk van die heuwels af

na hulle.

Hier is 'n volk wat alleen woon,

hulle woon nie saam

met ander volke nie.

10Niemand kan stof tel nie,

hulle kan ook nie die nageslag

van Jakob tel nie,

niemand kan sê hoeveel

is een kwart

van die Israeliete nie.

Ek bid dat ek eerlik sal bly

totdat ek sterf,

en dat my einde

soos hierdie volk se einde

sal wees.”

11Balak het vir Bileam gesê: “Wat het jy nou aan my gedoen? Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou geseën!”

12Bileam het geantwoord: “Ek mag net sê wat die Here vir my gesê het.”

Bileam praat die tweede maal

13Balak sê toe vir Bileam: “Kom asseblief saam met my na 'n ander plek. Jy sal van daar net party van hulle tente sien, jy sal hulle nie almal sien nie. Jy moet hulle vir my vervloek van daardie plek af.”

14Balak het toe vir Bileam na 'n plek bo-op Pisga-berg geneem, hulle kon van daar ver sien. Hy bou toe daar sewe altare en hy offer op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram.

15Bileam het vir Balak gesê: “Bly staan hier by jou brand-offer, ek sal met die Here gaan praat op 'n ander plek.”

16Die Here het na Bileam toe gekom en vir hom gesê wat hy moet sê. Die Here het gesê Bileam moet teruggaan na Balak toe en hy moet dit vir Balak sê.

17Toe Bileam terugkom by Balak, het Balak nog by sy brand-offer gestaan, hy en die amptenare van Moab. Balak het vir Bileam gevra: “Wat het die Here gesê?”

18Bileam begin toe praat. Hy het gesê:

“Balak, staan op, luister.

Seun van Sippor, jy moet hoor

wat ek sê.

19God is nie 'n mens nie,

Hy lieg nie,

Hy is nie soos 'n mens nie,

Hy verander nie wat Hy

besluit het nie.

Wanneer Hy iets belowe het,

dan doen Hy dit.

Wanneer hy gepraat het,

dan laat Hy dit gebeur.

20Luister, Hy het gesê ek moet

die volk seën,

en wanneer Hy iemand

geseën het,

dan kan ek dit nie

verander nie.

21Hy het nie besluit

dat dit sleg sal gaan

met die Israeliete nie,

en Hy het ook nie besluit

dat hulle sal swaarkry nie.

Hulle God die Here is by hulle,

hulle juig oor Hom, hulle Koning.

22God, wat hulle uit Egipte

gebring het,

is vir hulle soos die horings

van 'n oer-os.

23Ja, niemand kan die Israeliete

toor nie,

niemand kan sê wat met hulle

moet gebeur nie.

Mense sal nou

van die Israeliete sê:

‘Kyk wat het God gedoen!’

24Hier is 'n volk wat opstaan

soos 'n leeu,

wat gereedstaan soos 'n leeu,

wat nie gaan lê voordat hy iets

gevang en geëet het nie,

hy gaan lê nie voordat hy

die bloed gedrink het

van die diere wat hy

gevang het nie.”

25Balak het vir Bileam gesê: “As jy hulle nie kan vervloek nie, dan moet jy hulle ook nie seën nie.”

26Bileam het geantwoord en vir Balak gesê: “Ek het vir jou gesê dat ek alles sal doen wat die Here vir my sê.”

Bileam praat die derde maal

27Balak het toe vir Bileam gesê: “Kom asseblief, ek neem jou na 'n ander plek. Miskien sal God tevrede wees as jy hulle vir my vervloek” van daardie plek af.

28Balak neem toe vir Bileam tot bo-op Peor-berg. Van daardie berg kan 'n mens die droëveld sien.

29Bileam het vir hom gesê: “Bou vir my hier sewe altare en maak sewe bulle en sewe skaap-ramme gereed om te offer.”

30Balak het gedoen wat Bileam vir hom gesê het, en hy het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help