Amos 1 - Bybel vir almal

Wat Amos gesê het

1Die woorde van Amos.

Amos was 'n skaapboer. Hy het in die stad Tekoa gewoon. Die Here het vir hom gewys wat met die Israeliete sal gebeur. Dit was twee jaar voor die aardbewing. In daardie tyd was Ussia die koning van die land Juda, en Jerobeam was die koning van die land Israel. Jerobeam was die seun van Joas.

2Amos het gesê:

“Wanneer die Here uit Jerusalem praat, dan is dit soos 'n leeu wat brul. Dan word die veld droog waar die skape moet wei, die plante op Karmel-berg gaan dood.”

Die Here sal die Arameërs straf

3Die Here sê:

“Die mense van die stad Damaskus

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het wrede dinge gedoen

aan die mense van die land Gilead.

4Ek sal 'n vuur stuur na die huis

wat koning Gasael gebou het,

en die mooi huise

wat koning Ben-Hadad

gebou het, sal afbrand.

5Ek sal die poort van Damaskus

oopbreek.

Ek sal al die mense

wat in Bikat-Awen woon,

doodmaak saam met die koning

in die stad Bet-Eden.

Die vyande sal die Arameërs vang

en wegvat na die land Kir.”

Dit is wat die Here gesê het.

Die Here sal die Filistyne straf

6Die Here sê:

“Die mense van die stad Gasa

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het in party stede

al die mense gevang en verkoop,

en die mense het die Edomiete

se slawe geword.

7Daarom sal Ek 'n vuur stuur

na die stad Gasa.

Sy mooi huise sal afbrand.

8Ek sal al die mense

van die stad Asdod doodmaak,

en ook die koning

in die stad Askelon.

Ek sal die mense

in die stad Ekron straf.

Die Filistyne wat oorgebly het,

sal sterf.”

Dit is wat die Here gesê het.

Die Here sal die mense van Tirus straf

9Die Here sê:

“Die mense van die stad Tirus

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het in party stede

al die mense

wat gevangenes was,

verkoop aan die Edomiete

en die mense het die Edomiete

se slawe geword.

Die mense van Tirus het vergeet

dat hulle 'n ooreenkoms

met daardie mense gemaak het.

10Daarom sal Ek 'n vuur stuur

na die stad Tirus.

Sy mooi huise sal afbrand.”

Die Here sal die Edomiete straf

11Die Here sê:

“Die mense van die land Edom

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het oorlog gemaak

teen mense wat familie is van hulle.

Hulle was nie jammer

vir hulle familie nie.

Hulle het aangehou

om mense dood te maak.

Hulle het kwaad gebly.

12Daarom sal Ek 'n vuur stuur

na die stad Teman,

en die stad Bosra se mooi huise

sal afbrand.”

Die Here sal die Ammoniete straf

13Die Here sê:

“Die Ammoniete het

'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het oorlog gemaak

om meer grond te kry

in die land Gilead,

en toe het hulle

swanger vroue oopgesny.

14Daarom sal Ek die stad Rabba

en sy mooi huise afbrand.

Die vyande sal hard skree

wanneer hulle die stad aanval,

hulle sal soos 'n stormwind

deur die stad gaan.

15Hulle sal die Ammoniete

se koning en sy amptenare vang

en wegvat na 'n ander land.”

Dit is wat die Here gesê het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help