Jesaja 34 - Bybel vir almal

Die Here is baie kwaad vir al die volke

1Volke, julle moet almal luister,

die aarde en alles

wat op die aarde is,

moet luister,

die wêreld en alles

wat uit die wêreld kom,

moet luister.

2Die Here is baie kwaad

vir al die volke

en vir al hulle soldate.

Hy sal hulle almal laat doodmaak.

3Hulle soldate sal sterf in oorlog,

en die dooie liggame sal

op die grond lê en stink.

Die berge sal vol bloed wees.

4Al die sterre in die lug sal smelt

en die hemel sal toerol

soos 'n boekrol.

Die sterre sal val soos droë blare

van 'n wingerdstok of 'n vyeboom val.

Die Here sal die Edomiete straf

5Wanneer die Here in die hemel

sy swaard gereedmaak

om bloed te laat vloei,

dan sal sy swaard die Edomiete doodmaak.

Hulle is die mense wat Hy wil straf,

Hy wil hulle almal doodmaak.

6Die Here hou 'n swaard vas

wat vol bloed en vet is,

die bloed en die vet aan die niere

van skaap-ramme en bok-ramme.

Die Here sal baie mense doodmaak

in die stad Bosra, in die land Edom.

7Die leiers van Edom is sterk

soos buffels en bulle,

maar hulle bloed en hulle vet

sal op die grond val

en dit sal hulle land natmaak.

8Die Here sal die Edomiete straf

oor alles wat hulle gedoen het

aan Sion.

Hy sal dit doen op die tyd

wanneer Hy dit besluit.

9Die water van die riviere

van die land Edom sal teer word,

en die stof sal swael word,

en die hele land sal brand.

10Die vuur sal aanhou brand,

elke dag en nag,

dit sal aanhou rook.

Die land sal net hope klippe wees,

en niemand sal weer

deur die land loop nie.

11Daar sal nie mense

in die land woon nie,

die land sal leeg wees.

Daar sal net pelikane en uile woon,

nag-uile en kraaie sal hulle nes daar maak.

12Daar sal nie meer leiers wees

wat die land Edom regeer nie,

en daar sal nie meer amptenare wees nie.

13Daar was voorheen mooi huise

wat sterk mure gehad het,

maar nou sal daar dorings

en bossies groei.

Daar sal jakkalse en volstruise woon.

14 Woestyn-diere sal daar bymekaarkom,

veldgode sal mekaar roep,

en die nag-gees sal daar woon.

15Uile sal daar in die skaduwee

op hulle eiers broei,

en valke sal daar bymekaarkom,

elkeen saam met sy wyfie.

16Julle moet kyk

in die boek van die Here,

julle sal sien dat al daardie diere

in die land Edom sal wees,

elkeen saam met sy wyfie.

Die Here het gesê

die diere moet kom,

Hy het hulle bymekaargemaak.

17Die Here het die land Edom

vir die diere gegee,

Hy het vir elkeen sy eie plek gegee.

Die land sal altyd aan die diere behoort,

hulle sal altyd daar woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help