Job 22 - Bybel vir almal

Elifas praat die derde maal met Job

1Elifas van die land Teman het weer gepraat. Hy het gesê:

2“God kan alles self doen,

Hy het nie mense nodig nie,

nee, Hy het ook nie slim mense nodig nie.

3Dink jy die Almagtige moet bly wees

omdat jy reg gelewe het?

Of dink jy dit het Hom gehelp

dat jy nooit verkeerd gedoen het nie?

Nee.

4Job, dink jy dat Hy jou straf omdat jy

Hom gedien het,

dink jy dat Hy wil sê dit is hoekom jy

skuldig is?

5Nee, dit is omdat jy baie sleg gelewe het,

jy het so baie sonde gedoen

dat 'n mens dit nie kan tel nie.

Dít is hoekom Hy jou straf.

6Ja, jy het jou eie mense se klere gevat,

ook toe hulle niks vir jou geskuld het nie,

jy het arm mense kaal laat loop.

7Jy het nie water gegee vir mense

wat moeg is nie,

jy het nie kos gegee

vir honger mense nie.

8Al die grond behoort

aan die man wat ryk en sterk is,

en sy vriende woon daarop.

9Jy het niks gegee vir weduwees nie,

jy het weeskinders se goed gevat.

10Dit is hoekom daar vangstrikke om jou is,

dit is hoekom jy nou baie bang geword het.

11Dit het vir jou so donker geword

dat jy niks kan sien nie.

Dit is soos wanneer daar baie water

oor jou vloei.

12Jy dink dat God ver bo in die hemel is,

ja kyk, Hy is bokant die sterre wat baie hoog is.

13En jy vra: ‘Wat weet God?

Kan Hy deur die donker wolke sien

om mense te oordeel?’

14Jy dink dat die wolke Hom toemaak

sodat Hy nie kan sien nie,

jy dink dat Hy bokant die hemeldak loop.

15Wil jy dan aanhou lewe

soos die mense wat vóór jou gelewe het,

die mense wat sleg gelewe het?

16Daardie mense het gesterf toe hulle

jonk was,

hulle was soos huise wat weggespoel het.

17Hulle het vir God gesê: ‘Gaan weg van ons!’

Hulle het gesê: ‘Wat kan die Almagtige aan ons doen?

Niks.’

18Hulle het dit gesê vir Hom

wat hulle ryk gemaak het.

Die mense wat verkeerd doen,

dink nie soos ek dink nie.

19Mense wat reg doen,

die onskuldige mense, is bly

en hulle lag wanneer hulle sien

dat God die sondaars straf.

20Die mense wat reg doen, sê dan:

‘Ons vyande is dood,

en alles wat hulle gehad het,

het verbrand.’

21Job, jy moet vrede maak met God,

dan sal dit weer goed gaan met jou.

22Jy moet luister na wat Hy vir jou sê,

jy moet dit goed onthou.

23As jy terugkom na die Almagtige toe,

as jy ophou om sonde te doen,

dan sal jy weer word soos jy voorheen was.

24Jy moet onthou dat goud

nie méér kosbaar is as stof nie,

jy moet onthou dat die beste goud

nie méér kosbaar is

as die klippe in die rivier nie.

25Dan sal die Almagtige vir jou wees

soos goud, soos die beste silwer.

26Ja, dan sal jy bly wees

dat die Almagtige jou God is,

jy sal weet dat Hy goed wil wees vir jou.

27Jy sal dan tot Hom bid,

en Hy sal doen wat jy vra,

en jy sal jou geloftes betaal.

28Jy sal besluit oor iets, en dit sal gebeur,

daar sal lig wees op jou pad.

29Wanneer God mense onbelangrik laat word,

en jy vra dat Hy hulle weer belangrik moet laat word,

dan sal God dit doen, Hy red nederige mense.

30God sal 'n mens red,

ook wanneer die mens skuldig is.

En Hy sal jóú red as jy onskuldig is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help