Jesaja 18 - Bybel vir almal

Die lang mense met die blink velle

1Dit sal sleg gaan met die land

waar daar so baie insekte is,

daar by die riviere in die land Kus.

2Die mense van Kus het mense

na Jerusalem gestuur,

hulle het oor die water gekom

in papirus-bote.

Maar hierdie mense

wat so vinnig gekom het,

moet teruggaan na hulle eie volk toe,

na die lang mense

met die blink velle,

die mense vir wie almal bang is,

die mense wat sterk is

en wat maklik ander mense aanval.

Baie riviere vloei

deur daardie mense se land.

3Julle almal wat in die wêreld woon,

julle wat op die aarde woon,

julle sal sien wanneer iemand

op die berge 'n vlag in die lug hou,

julle sal hoor wanneer iemand

die ramshoring blaas.

4Want die Here het vir my gesê:

“Ek sal stil uit my woonplek

na alles kyk,

stil soos die warm son in die middag,

soos 'n miswolk in die somer.

5Maar voordat die mense begin koring afsny,

het die wingerdstokke opgehou blom

en die groen druiwe begin ryp word.

Dan sny die boer die nuwe jong takkies af

met 'n snoeimes,

hy knip die takkies af wat later gegroei het

en hy gooi dit weg.

6Hy los die takkies

vir die wilde voëls van die berge

en vir die wilde diere.

In die somer sit die wilde voëls daar

en in die winter lê die wilde diere daar.

7In daardie tyd sal die lang mense

met die blink velle weer kom,

die mense vir wie almal bang is,

die mense wat sterk is

en wat maklik ander mense aanval.

Baie riviere vloei

deur daardie mense se land.

Hulle sal presente bring

vir die Here wat oor alles regeer,

hulle sal dit bring na Sionsberg,

die plek van die Here wat oor alles regeer.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help