Psalms 144 - Bybel vir almal

Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is

1Van Dawid.

Ek wil die Here prys! Hy is my Rots.

Hy leer vir my hande om te veg,

Hy leer vir my vingers om oorlog te maak.

2Hy doen altyd wat Hy belowe het,

Hy is vir my soos 'n veilige plek in die berge,

Hy beskerm my en Hy maak my vry,

Hy is vir my soos 'n skild, ek voel veilig by Hom.

Hy maak my mense gehoorsaam aan my.

3Here, mense is nie belangrik nie.

Hoekom kyk U na hulle?

Hoekom dink U aan iemand wat net 'n mens is?

4Mense is soos wind, hulle lewe gaan verby

soos 'n skaduwee wat verdwyn.

5Here, U moet die hemel buig en U moet afkom,

U moet aan die berge raak,

sodat daar rook uit hulle kom.

6U moet die weerlig laat blits

en U moet die vyande na al die kante toe jaag,

U moet u pyle skiet

en U moet hulle laat vlug.

7U moet u hand uitsteek uit die hemel

en U moet my wegruk,

U moet my red van die baie water,

U moet my red van ander volke.

8Hulle wil net een ding doen,

en dit is om te lieg en te bedrieg.

9O God, ek wil vir U 'n nuwe lied sing,

ek wil vir U musiek maak met die harp.

10Dit is U wat konings help om oorloë te wen,

dit is U wat vir Dawid weggeruk het

voor 'n wrede vyand.

11U moet my ook wegruk,

U moet my red van die ander volke.

Hulle wil net een ding doen,

en dit is om te lieg en te bedrieg.

12Ons bid dat ons seuns sal wees soos plante

wat groei en groot word terwyl hulle nog jonk is.

Ons bid dat ons dogters sal wees

soos die mooi pilare

op die hoeke van die paleis.

13Ons bid dat ons stoorkamers vol sal wees,

dat daar baie soorte kos sal wees.

Ons bid dat ons skape en ons bokke op ons veld

duisende, tienduisende lammers sal hê,

14en dat ons beeste baie kalwers sal hê.

Ons bid dat vyande nie in ons stad sal kom

en die mense sal wegvat nie,

ons bid dat ons nie op die oop stukke grond

sal moet staan en huil nie.

15Dit gaan goed met 'n volk

wanneer dit so met hulle gaan.

Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help