Nahum 2 - Bybel vir almal

Nineve, die vyande sal kom

1Die Here sê:

“ Nineve, die vyande sal kom

en hulle sal julle mense wegjaag

na al die kante toe.

Julle moet die stad se mure oppas

en die pad dophou.

Julle moet gereedmaak

om oorlog te maak,

julle moet al julle soldate

bymekaarmaak.

2Julle het die Israeliete

se goed weggevat

en julle het hulle wingerdstokke verwoes,

maar Ek sal die Israeliete

weer so sterk maak

soos hulle was.”

3Julle vyande se skilde is rooi geverf,

en hulle klere is rooi.

Hulle oorlogkarre blink soos vuur.

Hulle wil julle aanval.

Die soldate swaai hulle spiese.

4Die oorlogkarre jaag

op die paaie,

hulle ry vinnig oor die veld.

Hulle blink soos vuurvlamme,

hulle is so vinnig soos weerlig.

5Die koning van Nineve

roep sy beste soldate

om teen die vyande te veg.

Maar wanneer hulle kom,

dan val party van hulle.

Hulle hardloop na die muur

van die stad,

maar die vyande is al buite

by die muur

onder 'n skild-dak.

6Dan maak die vyande

die hekke oop en hulle gaan in,

en die mense in die paleis

hou op om te veg.

Die hekke was in die rivier

wat deur die stad gevloei het.

7Dit is seker:

Die vyande vat al die mense

van Nineve weg.

Die slavinne kla

soos duiwe wat koer,

hulle huil en slaan op hulle bors.

8Die mense van Nineve

vlug uit die stad

soos water wat uit 'n dam vloei.

Die soldate skree:

“Wag! Staan stil!”

Maar niemand kyk om nie.

9Die vyande skree:

“Vat die silwer, vat die goud!”

Daar is baie mooi en duur goed.

10Die vyande het alles

in die stad gevat.

Hulle het die stad verwoes.

Die mense van Nineve

het bang geword.

Hulle knieë het swak geword.

Hulle het seergekry.

Almal se gesigte het bleek geword.

11-12Nineve was soos 'n plek

waar leeus bly.

'n Leeu-mannetjie en 'n leeu-wyfie

en hulle kleintjie

is vir niks bang nie.

Hulle vang diere wanneer hulle wil.

Die leeu-mannetjie vang 'n dier

en verwurg dit

en hy bring kos vir sy wyfies

en sy kleintjies.

Nineve se mense was ook

vir niks bang nie.

Hulle het ander mense gevang

soos leeus diere vang,

en hulle het die mense

se goed gevat.

13Die Here wat oor alles regeer, sê:

“Nineve, Ek is nou teen jou.

Ek sal jou oorlogkarre verbrand

en Ek sal jou soldate doodmaak.

Jy sal nie weer ander mense

se goed vat nie.

Jy sal nie weer boodskappers

stuur na ander plekke nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help