Esegiël 19 - Bybel vir almal

'n Klaaglied oor die konings van Israel

1Die Here het gesê: “En jy, mens, jy moet 'n klaaglied begin sing oor die konings van Israel.

2Jy moet sê:

“Jou ma was 'n groot leeu-wyfie tussen die leeus.

Sy het tussen die jong leeus gelê

en sy het haar klein welpies grootgemaak.

3Sy het een van haar welpies gekies,

en hy het 'n sterk jong leeu geword.

Hy het geleer om vir homself kos te vang,

hy het mense geëet.

4Maar die ander volke het gehoor van hom

en hulle het hom in 'n vang-gat gevang,

hulle het hom met groot ysterhoeke

na Egipte gebring.

5Die leeu-wyfie het gesien

dat haar plan nie geslaag het nie.

Sy het 'n ander welpie geneem

en sy het hom 'n sterk jong leeu gemaak.

6Hy het tussen die leeus rondgeloop

en hy het 'n groot jong leeu geword.

Hy het geleer om vir homself kos te vang,

hy het mense geëet.

7Hy het by hulle weduwees geslaap

en hy het hulle stede verwoes.

Almal in die land het bang geword

wanneer hy brul.

8Maar mense het die volke

bymekaargebring teen hom,

die volke uit al die lande rondom hom.

Hulle het hulle vangnet oor hom gegooi

en hulle het hom gevang in hulle vang-gat.

9Toe het hulle hom in 'n hok gesit

en hulle het hom met ysterhoeke

na die koning van Babel gebring.

Niemand het weer gehoor dat hy brul

op die berge van Israel nie.

10“Jou ma is soos 'n wingerdstok.

Iemand het die wingerdstok geplant by die water.

Die wingerdstok het baie ranke gehad

en dit het baie druiwe gedra

omdat daar baie water was.

11Die wingerdstok het sterk ranke gekry.

'n Mens kon septers vir konings

maak van die ranke.

Die wingerdstok het hoog gegroei,

sy boonste punt was tussen die wolke.

Almal kon sien hy is groot

en hy het baie ranke.

12Maar mense het kwaad geword

vir die wingerdstok.

Hulle het hom uitgeruk,

en die oostewind het hom droog laat word.

Hulle het sy druiwe afgepluk,

sy sterk ranke het droog geword

en hulle het dit verbrand.

13En toe plant hulle die wingerdstok

in die woestyn,

in 'n droë land waar daar nie water is nie.

14En daar het vuur gekom uit die wingerdstok se stam

en dit het die ranke en die druiwe verbrand.

Toe was daar nie meer 'n sterk tak

wat 'n koning se septer kon wees nie.”

Dit is 'n klaaglied hierdie. Dit het 'n klaaglied geword.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help