Amos 5 - Bybel vir almal

Die mense van Israel moet doen wat goed is, nie wat sleg is nie

1Mense van Israel,

luister na wat ek sê.

Ek huil en treur oor julle

soos 'n mens treur

oor iemand wat dood is:

2Die mense van Israel

het geval,

hulle sal nie weer opstaan nie.

Hulle het op hulle eie grond geval,

en niemand help hulle

om op te staan nie.

3Ja, die Here sê:

“Wanneer 1 000 mense van Israel

uit 'n stad gaan

om oorlog te gaan maak,

dan sal 900 sterf.

Wanneer 100 manne gaan,

dan sal 90 sterf.”

4Ja, die Here sê vir die mense van Israel:

“Julle moet vra

wat Ek wil hê julle moet doen,

dan sal julle lewe!

5Julle moenie in die stad Bet-El

gaan vra nie,

en julle moet ook nie

na die stad Gilgal gaan nie.

Julle moenie verder gaan

na die stad Berseba nie.

Die vyande sal die mense

van Gilgal vang

en na 'n ander land vat

en hulle sal Bet-El verwoes.”

6Vra wat die Here wil hê,

dan sal julle lewe!

As julle dit nie doen nie,

dan sal Hy 'n vuur na julle toe stuur

om die Israeliete te brand.

Daar sal niemand in Bet-El wees

wat die vuur kan doodmaak nie.

7Julle doen nie reg aan mense nie,

julle laat hulle baie swaar kry.

8Dit is die Here

wat die sterre gemaak het,

Orion en die Sewe-ster.

Hy laat dit lig word ná die nag,

Hy laat dit donker word

ná die dag.

Dit is Hy wat die wolke

uit die see bring

en wat dit laat reën op die land.

Sy Naam is die Here.

9Die Here maak sterk mense

vinnig dood.

Hy laat sterk mure omval.

10Julle haat 'n man

wat in die poort praat

teen iemand

wat verkeerd gedoen het,

julle hou nie van 'n man

wat die waarheid praat nie.

11Julle trap op die arm mens,

julle vat sy koring.

Daarom sal julle nie woon

in die huise

wat julle gebou het

met die klippe

wat julle so mooi gekap het nie.

Julle sal nie die wyn drink

van die mooi wingerde

wat julle geplant het nie.

12Ek weet hoe baie

en hoe groot julle sonde is.

Julle is vyande van iemand

wat reg doen.

Julle vat die geld

wanneer mense julle wil betaal

om verkeerd te doen.

In die poort is julle onregverdig

met die arm mense.

13Dit is hoekom

verstandige mense

stilbly in hierdie tyd.

Dit is 'n slegte tyd.

14Julle sê die Here is by julle.

Maar julle moet probeer

om goed te doen,

moenie doen wat sleg is nie.

Dan sal julle lewe,

en dan sal die Here,

die God wat oor alles regeer,

by julle wees.

15Julle moet haat wat sleg is

en julle moet lief wees

vir wat goed is,

julle moet in die hof reg doen

aan mense.

Miskien sal die Here,

die God wat oor alles regeer,

dan jammer wees vir julle,

julle Israeliete

wat nog lewe.

16Ja, die Here sê, die God wat oor alles regeer, die Here, sê:

“Die mense sal huil en treur

op al die oop plekke in die stad,

hulle sal in al die strate sug.

Hulle betaal mense om te treur,

en hulle sal die boere roep

om saam te kom treur

oor almal wat dood is.

17Hulle sal in al die wingerde treur,

want Ek gaan tussen julle deur

om julle te straf.”

Dit sê die Here.

Die dag van die Here

18“Dit sal baie sleg gaan

met mense wat wens

die dag van die Here

moet gou kom.

Hoekom wens julle

die dag van die Here

moet gou kom?

Daardie dag sal dit donker wees,

daar sal nie lig wees nie.

19Dit sal wees soos wanneer iemand

vir 'n leeu vlug

en dan teen 'n beer vasloop,

of wanneer iemand in sy huis kom

en met sy hand teen die muur druk,

en dan is daar 'n slang wat hom byt.

20Dit sal donker wees

op die dag van die Here,

dit sal nie lig wees nie.

Daardie dag sal swart wees,

daar sal niks lig wees nie.”

Die Here hou nie van die godsdiens van die mense van Israel nie

21“Ek haat julle feeste,

Ek wil nie die feeste hê nie.

Ek hou nie van julle gewyde feesdae nie.

22Julle bring vir My brand-offers

en koring-offers,

maar Ek wil dit nie hê nie

en Ek wil glad nie kyk

na die vet diere

wat julle bring vir ete-offers nie.

23Wanneer julle sing,

dan is dit nie vir My mooi nie,

julle raas net.

Hou op sing!

Ek wil nie luister

wanneer julle musiek

maak met 'n harp nie.

24Ek wil hê julle moet reg doen

aan mense.

Julle moet aanhou om dit te doen,

aanhou soos 'n rivier

wat altyd vol is.

25Mense van Israel,

toe julle 40 jaar lank

in die woestyn was,

het julle nie diere of koring

vir My ge-offer nie.

26Nou sal julle die gode

wat julle gemaak het,

saam met julle moet dra.

Dit is julle ster-gode,

julle koning Sikkut,

julle afgod Kijun.

27Die vyande sal julle vang

en hulle sal julle wegvat

tot ver anderkant

die stad Damaskus,”

sê die Here.

Sy Naam is die Here,

God wat oor alles regeer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help