SAGARIA 5 - Afrikaans 1983

Die sesde gesig: die boekrol

1Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n boekrol wat in die lug sweef.

2Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien 'n boekrol wat in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en 'n half meter breed.”

3Toe sê die engel vir my: “Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat 'n vals eed aflê, het tot nou toe ongestraf gebly.”

4Ek stuur die vervloeking, sê die Here die Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my Naam 'n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles.

Die sewende gesig: die mandjie

5Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk daar! Kyk wat kom daar aan.”

6Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is 'n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.”

7Toe word die ronde looddeksel van die mandjie opgelig, en daar sit 'n vrou binne-in die mandjie!

8Die engel het gesê: “Dit is die goddeloosheid!”

Hy het haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap.

9Toe sien ek twee vroue aankom wat met vlerke op die wind sweef, vlerke soos dié van 'n grootsprinkaanvoël. Hulle het die mandjie opgetel en is daarmee die lug in.

10Ek vra toe die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Waarheen gaan hulle met die mandjie?”

11Hy het geantwoord: “Hulle gaan vir die mandjie 'n huis bou in Sinar. As dit klaar is, sal die mandjie daar op die plek gesit word waar hy hoort.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help