PSALMS 116 - Afrikaans 1983

Ek het die Here lief

1Ek het die Here lief,

want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

3Bande van die dood het my omsluit,

doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:

“Here, red my tog!”

5Die Here is genadig en regverdig,

ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses:

ek was magteloos, maar Hy het my gered.

7Ek moet nou tot rus kom,

die Here het goed aan my gedoen:

8U het my van die dood gered,

U het 'n einde gemaak aan my trane,

U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.

9Ek kon voor die Here bly wandel

in die land van die lewendes.

10Ek het in U bly glo,

selfs toe ek gedink het dit is klaar met my

11en toe ek in my vertwyfeling besef het:

ek kan op geen mens staatmaak nie.

12Hoe sal ek die Here vergoed

vir al sy weldade aan my?

13Met 'n drankoffer sal ek van sy redding getuig

en die Naam van die Here aanroep.

14My geloftes aan die Here sal ek betaal

in die teenwoordigheid van sy hele volk.

15Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

16Ek is u dienaar, Here,

van my geboorte af is ek al u dienaar:

U het my vrygemaak.

17Ek wil U loof met 'n dankoffer,

ek wil die Naam van die Here aanroep.

18My geloftes aan die Here sal ek betaal

in die teenwoordigheid van sy hele volk,

19in die voorhowe van die huis van die Here,

binne-in jou, Jerusalem!

Prys die Here!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help