HOOGLIED 4 - Afrikaans 1983

Hy:

1“Jy is mooi, my liefling,

jy is mooi, jou oë is duiwe agter jou sluier.

Jou hare is soos 'n trop bokke

wat teen die Gileadberge afkom.

2Jou tande is so wit soos 'n ry pasgeskeerde skape

wat nou net skoon gewas is,

elkeen met 'n tweeling,

nie een sonder 'n lam nie.

3Jou lippe is soos skarlakenrooi lint,

jou mond bekoor my.

Die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte

agter jou sluier.

4Dié aan jou nek is soos die Dawidstoring

wat uit rye klip gebou is;

aan hom hang duisend skilde,

al die skilde van die helde.

5Jou twee borste is soos takboklammers,

soos die tweeling van 'n ribbok

wat tussen die lelies wei.

6Wanneer die aandwind begin waai

en die skaduwees lank word,

wil ek na my mirreberg,

my wierookheuwel, toe gaan.

7Alles aan jou is mooi, my liefling,

aan jou is niks verkeerd nie.

8Kom saam met my van die Libanon af, my bruid,

kom saam met my van die Libanon af,

kom af hier van die top van Amana,

van die top van Senir en Hermon af,

weg van die leeus se skuilplekke,

weg van die luiperds se hoë lêplekke af.

9“Jy het my hart gesteel, my beminde bruid,

jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë,

met een skakel in die ketting om jou hals.

10Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid,

jou liefkosings is beter as wyn,

jou parfuum ruik lekkerder as al die lekkerruik-kruie.

11Jou lippe proe soos heuningstroop, my bruid,

jou tong soos heuning en dikmelk,

en jou klere ruik soos die Libanon.

12“My beminde bruid is 'n tuin wat toegemaak is,

'n tuin met 'n muur om, 'n fontein wat afgekamp is.

13Jou liggaam is 'n lushof,

granaatbome met keurige vrugte,

hennastruike saam met nardus,

14nardus en saffraan,

kalmoes en kaneel

saam met elke soort lekkerruik-kruie,

mirre en aalwyn

saam met al die beste lekkerruik-kruie.

15Daar is 'n fontein in my tuin,

'n put met borrelende water,

strome van die Libanon af.”

Sy:

16“Word wakker, noordewind, kom, suidewind!

Waai deur my tuin, versprei sy geur!

Die man wat ek liefhet, kom na sy tuin toe;

hy gaan die keurige vrugte daarvan eet.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help