JESAJA 4 - Afrikaans 1983

1Daardie dag sal sewe vrouens

een man beetpak

en sê: “Ons sal ons eie brood eet

en self vir ons klere sorg.

Laat ons net jou naam dra,

neem ons smaad weg!”

Die Here sal die inwoners van Jerusalem reinig

2Daardie dag sal alles wat die Here laat uitspruit,

mooi en weelderig wees.

Dié uit Israel wat vrygekom het,

sal trots wees op die opbrengs van die land

en hulle daarin verlustig.

3Wie in Sion oorgebly het,

wie in Jerusalem bewaar gebly het,

elkeen in Jerusalem wat vir die lewe opgeskryf is,

sal heilig genoem word.

4Die Here sal die inwoners van Sion

reinig van hulle wandade

en Hy sal die bloed wat aan die hande van Jerusalem kleef,

verwyder deur die Gees wat oordeel en verteer.

5Dan sal die Here bedags 'n wolk en snags

die rook en glans van 'n vlammende vuur skep

oor elke woonplek op Sionsberg

en oor al die bymekaarkomplekke daar.

Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut.

6Daar sal 'n skuiling wees,

'n skaduwee teen die hitte bedags,

'n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help