JESAJA 32 - Afrikaans 1983

Daar sal 'n koning kom

1Daar sal 'n koning kom wat reg sal regeer

en amptenare wat reg sal laat geskied.

2Hulle sal elkeen soos 'n skerm teen die wind,

soos 'n skuiling teen die stortreën wees,

soos strome water in 'n dor land,

soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n kaal wêreld.

3Dan sal die oë van dié wat moet sien, nie meer toe wees nie

en sal die ore van dié wat moet hoor, weer kan hoor.

4Die verstand van onbesonne mense sal kennis kan verwerk

en die hakkelaars sal vlot kan praat.

5'n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie

en 'n skurk nie meer as edel beskryf word nie.

6'n Dwaas laster teen God,

sy gedagtes is net met sonde besig;

wat hy doen, wys dat hy ver van die Here af leef,

wat hy vir die Here sê, is vals.

So iemand laat 'n honger mens honger bly

en weier om 'n dors mens water te gee.

7'n Skurk se motiewe is kwaadwillig,

hy smee boosaardige planne

om met leuens die ondergang van eenvoudige, arm mense te bewerk,

ook al beroep hulle hulle op die reg.

8'n Eerbare mens het eerbare bedoelings

en hy kom op vir wat eerbaar is.

Wie reg doen, sal vrede hê

9Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe,

luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!

10Julle wat nou so selfversekerd is,

sal oor iets meer as 'n jaar rede hê om te bewe:

daar sal nie druiwe wees om te oes nie,

geen vrugte om te pluk nie.

11Staan maar nou al verskrik, onbesorgdes,

begin maar bewe, selfversekerdes!

Trek uit julle klere, trek rouklere aan,

12slaan julle borste van smart

oor die welige landerye, die vrugbare wingerde,

13oor my volk se grond

wat oortrek is met dorings en dissels,

oor al die huise waarin daar soveel vrolikheid was,

oor die stad wat altyd so uitgelate feesgevier het.

14Die paleis lê verlate,

die stad wat so bedrywig was, is leeg.

Waar Ofel en die wagtoring was,

is dit vir altyd net veld

waar wildedonkies lustig vreet

en troppe vee wei.

15So sal dit wees totdat die Gees

van Bo af op ons uitgestort word.

Dan word die woestyn 'n vrugteboord

en word die vrugteboord so dig

dat dit vir 'n bos aangesien word.

16Maar in woestyn en in vrugteboord

sal reg geskied en reg gedoen word.

17Wie reg doen, sal vrede hê;

wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.

18My volk sal in rustige velde woon,

in veilige wonings,

op plekke waar daar rus is en geen sorge nie.

19Al slaan hael die bosse weg,

al word die stad met die grond gelyk gemaak,

20met julle sal dit goed gaan:

julle sal saai langs baie waters,

julle sal julle beeste en julle donkies vry laat loop.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help