JESAJA 55 - Afrikaans 1983

Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit

1Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,

koop en eet;

ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal,

wyn en melk.

2Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie,

waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is

en versadig kan word met die beste wat daar is.

3Gee aandag en kom na My toe,

luister, en julle sal lewe.

Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit,

Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

4Ek het hom 'n getuie gemaak vir die volke,

'n regeerder en gebieder van volke.

5Nou sal jy nasies ontbied wat jy nie geken het nie,

en nasies wat jou nie geken het nie,

sal na jou toe hardloop

ter wille van die Here jou God,

die Heilige van Israel,

omdat Hy jou in eer herstel het.

6Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is,

roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

7Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan,

die slegte mens sy slegte planne.

Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees;

hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

10Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit

en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde

en laat die plante bot en vrugte dra,

sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.

11So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:

dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê

en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

12Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek

en in vrede gelei word;

die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig

en al die bome in die veld sal hande klap.

13In die plek van 'n doringbos sal daar 'n sipres opskiet,

in die plek van 'n dissel sal daar 'n mirteboom opskiet.

Dit sal tot eer van die Here wees,

'n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help