JESAJA 3 - Afrikaans 1983

Juda het in duie gestort

1Die Here die almagtige God

gaan uit Jerusalem en Juda

elke stut en steunpilaar verwyder:

almal wat sorg vir brood en water,

2elke weerbare burger, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, leier,

3offisier, hoë amptenaar, raadgewer, kundige vakman en ervare besweerder.

4Die Here sal aan onvolwassenes gesag gee oor die volk,

wispelturige mense sal oor hulle heers.

5Die volk sal mekaar te lyf gaan,

man teen man, vriend teen vriend;

seuns sal grysaards te lyf gaan,

en dié wat nie gesag het nie, die vooraanstaandes.

6As iemand sy broer in die ouerhuis pak en sê:

“Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier

en regeer oor hierdie vervalle spul,”

7sal hy op daardie dag uitroep:

“Ek wil nie die leiding neem nie!

Daar is nie kos

en ook nie behoorlike klere in my huis nie;

moet my nie aanstel as leier van die volk nie.”

8Jerusalem het gewaggel,

Juda het in duie gestort

omdat hulle hulle met woord en daad

teen die Here en teen sy gesag verset het.

9Hulle partydigheid in die regspraak getuig teen hulle.

Hulle sondig openlik soos Sodom,

hulle steek niks weg nie.

Ellende wag vir hulle,

hulle het die ramp verdien!

10Sê vir die regverdiges met húlle sal dit goed gaan;

hulle sal die vrug van hulle dade geniet.

11Maar ellende wag vir die skuldiges;

wat hulle gedoen het,

sal aan húlle gedoen word.

12My volk het kinders as regeerders,

vrouens as heersers.

My volk, jou leiers verlei jou

en bring jou van koers af.

13Die Here is gereed vir die regsaak,

Hy staan klaar om oor die volk te oordeel.

14Die Here begin die saak

teen die leiers en die hoë amptenare van sy volk:

Julle het die wingerde gestroop;

wat van die hulpeloses geroof is,

lê in julle huise.

15Wat besiel julle dat julle my volk vertrap

en die hulpeloses verdruk?

vra die Here my God, die Almagtige.

16Verder het die Here gesê:

Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is

en kop in die lug rondloop

terwyl hulle ogies maak,

wegstap met trippelgang

en hulle enkelringe laat rinkel,

17sal Ek, die Here, hulle hare afskeer.

Ja, die Here sal hulle koppe kaalskeer.

18Op dié dag sal die Here die versiersels wegneem: enkelringe, sonnetjies en maantjies,

19oorbelletjies en armbande, sluiers

20en hooftooisels, voetkettinkies, versierde gordels, reukwater en gelukbringertjies,

21ringe en neusringe,

22feesklere, mantels en tjalies, handsakkies

23en spieëltjies, spogrokkies, kopdoekies en skouermanteltjies.

24In plaas van reukwater sal daar stank wees,

in plaas van 'n gordel 'n tou,

in plaas van gekrulde hare 'n kaalkop,

in plaas van 'n fyn kledingstuk 'n harige roukleed,

in plaas van skoonheid die brandmerk van 'n slaaf.

25Jerusalem, jou manne sal deur die swaard val

en jou jongmanne in die oorlog.

26Jou poorte sal treur en rou,

en jy sal sonder mense sit.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help