JESAJA 41 - Afrikaans 1983

Wie het vir Kores laat opstaan?

1Bly stil en luister na My, eilande,

maak julle gereed, volke,

staan nader en stel julle saak,

laat ons die saak uitmaak.

2Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het

vir wie elke voetstap oorwinning bring?

Wie gee nasies aan hom oor,

onderwerp konings aan hom?

Sy swaard en sy pyl en boog

laat hulle verdwyn soos stof voor die wind,

soos dwarrelende stoppels.

3Hy agtervolg hulle en trek ongehinderd voort,

sy voete raak nie eens grond nie.

4Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen?

Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?

Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste,

en wanneer die laaste dinge gebeur,

sal Ek nog die Here wees.

5Die eilande het gesien wat gebeur en het bang geword,

die hele aarde het gebewe.

Die mense kom bymekaar,

6hulle help mekaar en praat mekaar moed in.

7Die ambagsman praat die goudsmid moed in,

die een wat die metaal uitklop,

praat hom wat dit aanmekaar smee, moed in.

Hulle sê: “Die smeewerk is goed!”

Dan slaan hulle die beeld met spykers

vas dat hy nie omval nie!

Ek hou jou vas

8Maar jy, my dienaar, Israel,

Jakob vir wie Ek uitverkies het,

afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,

9jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het,

van sy uithoeke af geroep het,

vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar,

Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.

10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.

11Almal wat teen jou te kere gaan,

sal teleurgesteld staan en die aftog blaas.

Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.

12Jy sal dié soek wat teen jou veg,

maar hulle sal nêrens te vinde wees nie;

dié wat teen jou oorlog maak,

sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.

13Ek is die Here jou God,

Ek vat jou hand,

Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,

Ék help jou.

14Moenie bang wees nie,

al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob,

al is jy klein, Israel.

Ék help jou, sê die Here jou Verlosser,

die Heilige van Israel.

15Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande;

jy sal berge dors en fynmaal,

jy sal van rante kaf maak.

16Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai,

die stormwind sal hulle verstrooi;

dan sal jy jubel in die Here,

jy sal roem in die Heilige van Israel.

17Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie;

hulle versmag van dors.

Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,

Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring,

en in die laagtes fonteine laat uitborrel.

Ek sal woestyngebied in rietvlei verander,

dor land in fonteinwêreld.

19Ek sal in die woestyn seders laat groei,

doringbome, mirte en olyfbome.

Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei

saam met platane en denne.

20Dan sal die mense sien en erken,

almal sal begryp en insien

dat die Here dit gedoen het,

dat die Heilige van Israel dit geskep het.

Julle kan niks doen nie

21Stel julle saak, gode, sê die Here,

bring julle bewyse, sê die Koning van Jakob.

22Kom, sê vir ons wat gaan gebeur,

sê vir ons wat beteken dit wat verby is

sodat ons daaroor kan nadink

en kan weet waarop dit uitloop.

23Of laat ons hoor wat gaan gebeur,

sê vir ons wat in die toekoms gaan plaasvind

dat ons kan weet of julle gode is.

Doen iets, doen goed of kwaad,

dan sal ons almal verbaas staan en skrik.

24Maar julle is niks,

julle kan niks doen nie.

Wie vir julle as sy gode kies, is self afskuwelik.

25Ek het iemand uit die noorde te voorskyn laat kom,

van sonsopgang se kant af het hy gekom

en my Naam aangeroep.

Hy het regeerders in die modder in getrap

soos 'n pottebakker die klei trap.

26Wie het voor die tyd al gesê dat dit sal gebeur

sodat ons daarvan kennis kon neem,

vantevore al, sodat ons sou kan sê dit het uitgekom?

Nee, niemand het dit gesê nie,

niemand het iets daaroor laat hoor nie,

niemand het julle 'n woord daaroor hoor sê nie.

27Ek is die eerste wat vir Sion gesê het:

Kyk, jou mense kom terug!

Ek laat Jerusalem 'n goeie tyding hoor.

28Ek het gewag op 'n antwoord,

maar nie een van die afgode het gereageer nie,

nie een van hulle het 'n woord te sê gehad nie.

Ek het hulle ondervra,

maar niemand kon antwoord nie.

29Hulle is almal vals,

hulle kan niks doen nie,

hulle beelde beteken niks,

hulle kon net so wel nie daar gewees het nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help