PSALMS 17 - Afrikaans 1983

Gebed van 'n onskuldig vervolgde

1'n Gebed van Dawid.

Luister tog, Here, na my regverdige saak,

let op my hulpgeroep.

Hoor tog die gebed wat ek in alle opregtheid bid.

2U sal uitspraak lewer in my guns:

u oë sien immers self wat reg is.

3As U my sou toets,

my selfs in my slaap sou ondersoek,

my deeglik sou keur,

sou U niks verkeerds vind nie.

4Oor die doen en late van mense

het ek niks verkeerds gesê nie:

ek het my aan u bevel gehou.

5Elke stap van my was vas

op die koers wat U aangewys het.

My voete het nie daarvan afgewyk nie.

6Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God!

Luister tog na my en hoor wat ek sê.

7Toon u wonderlike trou,

U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil.

8Beskerm my soos die appel van u oog,

steek my weg in die skaduwee van u vleuels

9vir die goddeloses wat my wil oorweldig,

die doodsvyande wat my omsingel.

10Sonder enige meegevoel,

met monde wat aanmatigende dinge sê,

omsingel hulle my

11waar ek ook gaan.

Hulle soek my ondergang.

12Hulle is soos leeus, oorgehaal om te verskeur,

soos jong leeus wat iets voorlê.

13Kom tog, Here, staan hulle voor,

dwing hulle op die knieë.

Red my met u swaard uit die mag van die goddeloses,

14met u eie hand, Here, van hierdie mense.

Laat hulle ontydig omkom, sny hulle lewens af;

laat hulle hulle vol eet aan die onheil

wat U vir hulle gereed hou;

laat daar oorgenoeg wees vir hulle kinders

en laat daar nog oorbly vir die kindskinders.

15Maar wat my betref,

omdat die reg aan my kant is, sal ek weer voor U staan.

As ek wakker word, sal ek my verbly in u teenwoordigheid.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help