PSALMS 27 - Afrikaans 1983

Die Here is my lig en my redder

1Van Dawid.

Die Here is my lig en my redder,

vir wie sou ek bang wees?

Die Here is my toevlug,

vir wie sou ek vrees?

2As misdadigers op my afstorm om my dood te maak,

my teëstanders en my vyande,

dan is dit juis húlle wat struikel en val.

3Al sou 'n leër teen my stelling inneem,

sal ek nie bang word nie.

Selfs al sou die aanval op my begin,

sal ek nog steeds vertroue hê.

4Net een ding het ek van die Here gevra

en dit sal ek najaag:

dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon

om sy goedheid te belewe

en daaroor na te dink in sy tempel.

5Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis,

my veilig laat skuil in sy woonplek,

my hoog op 'n rots laat staan;

6ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring,

ek sal 'n lied sing,

ek sal sing tot die eer van die Here

terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.

7Luister tog na my, Here, as ek roep;

wees my genadig en verhoor my gebed.

8Ek onthou wat U gesê het:

“Julle moet My kom dien!”

Ek is hier om U te dien, Here.

9Moet U tog nie vir my verberg nie,

moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie,

want U was nog altyd my hulp.

Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,

want U alleen is die God wat my red.

10Al sou my vader en my moeder my verlaat,

die Here sal my onder sy sorg neem.

11Leer my u wil, Here,

en lei my op 'n gelyk pad

sodat my vyande nie hulle sin kry nie.

12Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie,

want daar staan vals getuies teenoor my

en hulle blaas geweld teen my aan.

13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...!

14Vertrou op die Here!

Wees sterk en hou goeie moed!

Ja, vertrou op die Here!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help