JOB 5 - Afrikaans 1983

1Roep maar! Niemand sal jou antwoord nie.

Is daar selfs 'n engel na wie jy jou sou kon wend om hulp?

2“Verbitterdheid maak 'n dwaas dood,

onbeheerstheid vernietig 'n onverstandige.

3Ek het gesien dat 'n dwaas wortel skiet,

maar skielik tref 'n ramp sy huis

4en daar is geen hulp vir sy kinders nie;

hulle word veronreg in die hof

en niemand behartig hulle saak nie.

5“Wat 'n dwaas geoes het, word deur honger mense opgeëet;

hulle haal dit uit selfs waar dit tussen die dorings weggepak is.

Dié wat niks het nie, gryp gretig na sy besittings.

6Ellende kom nie sommerso uit die grond uit op nie,

swaarkry skiet nie sommer uit die aarde uit op nie.

7Die mens is vir swaarkry gebore,

en sy lewe is kortstondig soos 'n vonk wat opskiet.”

Elifas: God maak gesond

8“As ek jý was, sou ek my tot God wend

en my saak aan Hom voorlê.

9Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik,

wonder op wonder.

10Dit is Hy wat reën op die aarde gee,

wat water oor die veld uitgiet.

11Dit is Hy wat die vertraptes weer optel,

wat uitkoms gee aan dié wat ly.

12Dit is Hy wat die planne van slinkse mense verydel

sodat hulle niks blywends tot stand bring nie.

13Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne;

wat geslepe mense besluit, maak Hy gou tot niet.

14Helder oordag oorval die donkerte hulle,

in die middel van die dag tas hulle rond asof dit nag is.

15Dit is God wat die arm mens red van hulle vals beskuldigings

en uit die mag van die sterkes.

16So is daar hoop vir die behoeftige

en kom die onreg tot 'n einde.

17“Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word.

Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie.

18Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle weer,

wat seer slaan, maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.

19Al tref 'n ramp jou ses of sewe keer, Hy sal jou red,

selfs 'n hoeveelste keer sal dit jou geen kwaad aandoen nie.

20In hongersnood sal Hy jou red van die dood,

in oorlog sal Hy jou red van die swaard.

21Jy sal beskerm word teen venynige tonge;

en as daar rampe kom, hoef jy nie bang te wees nie.

22Onder rampe en in hongersnood sal jy opgewek bly,

en vir die wilde diere hoef jy nie bang te wees nie.

23Van die klippe in die veld sal jy geen las hê nie,

en met die wilde diere sal jy in vrede leef.

24Jy sal ondervind dat jou woonplek veilig is,

en jy sal jou weiveld besoek en niks mis nie.

25Jy sal 'n groot nageslag hê,

jou nakomelinge sal so veel wees soos die gras in die veld.

26Jy sal op rype ouderdom die graf ingaan

soos 'n gerf wat op sy tyd na die dorsvloer toe gebring word.

27“Kyk, dit het ons ontdek, so is dit,

luister daarna en neem dit ter harte.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help