JESAJA 53 - Afrikaans 1983

1Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?

Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

2Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit,

soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond.

Hy het nie skoonheid of prag gehad

dat ons na hom sou kyk nie,

nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

3Hy was verag en deur die mense verstoot,

'n man van lyding wat pyn geken het,

iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.

Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

4Tog het hy óns lyding op hom geneem,

óns siektes het hy gedra.

Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,

wat deur God geslaan en gepynig word.

5Oor óns oortredings is hy deurboor,

oor óns sondes is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,

deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

6Ons het almal gedwaal soos skape,

ons het elkeen sy eie pad geloop,

maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

7Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,

hy het nie gekla nie.

Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word

en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word,

het hy nie gekla nie.

8Terwyl hy gely het en gestraf is,

is hy weggeneem,

en wie van sy mense het dit ter harte geneem

dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?

Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

9Hy het 'n graf gekry by goddeloses,

hy was by sondaars in sy dood

al het hy geen misdaad gepleeg nie

en al was hy nooit vals nie.

10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,

om hom die pyn te laat ly.

As hy sy lewe as skuldoffer gee,

sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe,

deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien

en hy sal die Here ken.

My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:

hy sal die straf vir hulle sonde dra.

12Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes.

Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier

omdat hy hom in die dood oorgegee het

en as misdadiger beskou is,

omdat hy die sondes van baie op hom geneem het

en vir oortreders gebid het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help