JESAJA 27 - Afrikaans 1983

In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet

1Daardie dag sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is.

2Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd;

3Ek, die Here, sorg daarvoor:

Ek lei dit gereeld nat,

dag en nag staan Ek wag daarby

sodat niemand dit kan beskadig nie.

4Ek is nie kwaad vir my wingerd nie.

Niemand sal dit waag om dorings en dissels daarin te plant nie.

Maar soos in 'n oorlog sal Ek my wingerd plattrap

en heeltemal verbrand

5as hy nie in my stad kom skuil nie.

Hy, Israel, moet met My kom vrede maak,

hy moet vrede met My kom maak!

6In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet,

Israel sal groei en lote maak.

Die aarde sal vol word van hulle vrugte.

7Die Here het sy volk nie geslaan

soos Hy hulle teëstanders geslaan het nie.

Hy het hulle ook nie doodgemaak,

soos Hy hulle moordenaars doodgemaak het nie.

8Die Here het sy volk gestraf

deur hulle te verjaag en weg te dryf.

Met 'n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe.

9As Jakob al sy altaarklippe fyn stamp

soos 'n mens 'n kalkklip fyn stamp,

as hy nie gewyde pale en wierookaltare vir sy afgode oprig nie,

sal daar versoening wees vir sy oortreding,

sal sy sonde van hom af weggeneem word.

10Die versterkte stad lê verwoes:

'n plek sonder inwoners,

verlate soos die woestyn.

Dáár wei net kalwers,

en hulle vreet wat daar groei,

en dáár gaan hulle lê.

11Die droë takke word afgebreek,

vrouens kom en maak vuur daarmee.

Israel is 'n volk sonder begrip van wat Ek doen.

Daarom sal sy Maker hom nie langer liefhê nie

en sal sy Skepper hom nie genadig wees nie.

12Daardie dag sal die Here sy oes inbring

van die Eufraat af tot by die grens van Egipte,

en julle, Israeliete, sal die koringare wees wat één-één opgetel word.

13Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word.

Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was,

ook dié wat na Egipte toe verjaag is.

Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help