AMOS 3 - Afrikaans 1983

Die Here God het gepraat

1Luister na die woord wat die Here

teen julle rig, Israeliete,

teen al die stamme wat Hy uit Egipte laat trek het:

2Ek het net vir julle uitgekies uit al die volke van die aarde,

daarom sal Ek julle straf oor al julle sondes.

3Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek het nie?

4Sal 'n leeu in die bos brul as hy niks het om te vreet nie?

Sal hy in sy boerplek roep as hy nie gevang het nie?

5Sal 'n voël in 'n wip op die grond val

as daar nie 'n strik vir hom gestel is nie?

Sal 'n wip op die grond toeklap

as dit nie iets gevang het nie?

6Sal daar in 'n stad op 'n ramshoring geblaas word

as die inwoners nie geskrik het nie?

Sal daar 'n ramp oor 'n stad kom

as die Here dit nie gebring het nie?

7Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit

bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.

8Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie?

Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie?

Hulle weet nie hoe om reg te doen nie

9Maak dit bekend in die mooi huise in Asdod,

in die mooi huise in Egipte,

sê vir die mense daarin:

Kom bymekaar op die Samariaberge,

kyk na die groot verwarring in Samaria,

die verdrukking daarbinne.

10Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg,

weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here.

11Daarom, so sê die Here my God:

'n Vyand sal die land inneem,

hy sal jou vesting bo-op jou afbreek,

jou mooi huise kaalstroop.

12So sê die Here:

Soos 'n skaapwagter twee pootjies

of 'n stukkie oor weggryp uit 'n leeu se bek,

so sal die Israeliete weggegryp word,

hulle wat in Samaria op rusbanke sit,

op oorgetrekte gemakstoele!

13Luister hierna, en lê getuienis af teen Jakob,

sê die Here my God, die almagtige God!

14Die dag as Ek Israel oor sy sondes straf,

sal Ek die altare van Bet-El verwoes;

die horings van sy altare sal afgebreek word

en op die grond val.

15Ek sal die winterhuis platslaan

saam met die somerhuis,

die huise met ivoorinleg sal vergaan,

baie huise sal verdwyn, sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help