AMOS 2 - Afrikaans 1983

Teen Moab

1So sê die Here:

Selfs as Moab net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hy het die bene van Edom se koning tot kalk verbrand.

2Daarom sal Ek in Moab 'n vuur laat losbreek

en dit sal die mooi huise van Kerijot verteer.

Moab sal omkom onder oorlogsrumoer,

onder die blaas van die ramshoring.

3Ek sal sy regeerder uit hom wegvat

en al sy amptenare saam met hom doodmaak, sê die Here.

Teen Juda

4So sê die Here:

Selfs as Juda net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hulle het die wet van die Here verwerp,

hulle nie aan sy voorskrifte gehou nie

en toe het die vals gode hulle verlei,

die afgode agter wie hulle voorvaders aangeloop het.

5Daarom sal Ek in Juda 'n vuur laat losbreek

en dit sal die mooi huise van Jerusalem verteer.

Teen Israel

6So sê die Here:

Selfs as Israel net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy nog sondes daarby gevoeg:

hulle verkoop onskuldige mense vir geld,

arm mense oor 'n paar sandale;

7hulle trap swakkes se koppe plat in die grond

en veronreg dié wat hulleself nie kan verweer nie;

pa en seun kuier by dieselfde meisie

en doen my heilige Naam oneer aan;

8langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit

op klere wat as pand gevat is;

in die huis van hulle God

drink hulle die wyn van dié wat uitgebuit is.

9Ek het die Amoriete wat hoog soos seders is,

sterk soos eike, uitgeroei om vir julle plek te maak, Israeliete!

10Ek het julle uit Egipte laat trek,

Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn gelei,

Ek het julle die land van die Amoriete in besit laat neem,

11Ek het van julle seuns as profete laat optree

en van julle jongmanne as nasireërs.

Is dit nie so nie, Israeliete?

vra die Here.

12Maar julle het die nasireërs laat wyn drink

en die profete belet om as profete op te tree.

13Daarom laat ek julle vasval net waar julle is

soos 'n wa vasval wat te vol gerwe is.

14Die vinnige sal nie kan vlug nie,

die sterke se krag sal hom niks baat nie,

die dapper soldaat sal homself nie kan red nie.

15Wie met pyl en boog veg, sal nie kan weerstand bied nie,

die vinnige sal nie kan weghardloop nie,

die ruiter sal homself nie kan red nie.

16Selfs die sterkste soldaat sal daardie dag kaal wegvlug,

sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help