PSALMS 88 - Afrikaans 1983

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie

1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.

2Here my God wat my altyd help,

ek roep elke dag om hulp,

elke nag bid ek tot U.

3Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,

hoor my geroep.

4Die swaarkry het vir my te veel geword:

ek vat al aan die doderyk,

5ek staan al met die een voet in die graf,

ek het geen krag meer nie.

6Dit is asof ek al tussen die dooies is,

tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,

dié aan wie U nie meer dink nie

en van wie U u hand teruggetrek het.

7U het my onder in die put laat beland,

in diepe duisternis.

8U gramskap rus swaar op my,

U laat al u golwe oor my breek. Sela

9U laat my bekendes ver van my af staan

en maak my vir hulle iets afskuweliks;

ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.

10My oë is al dof van ellende;

die hele dag deur roep ek na U, Here,

en steek ek my hande in gebed na U uit.

11Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?

Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela

12Word daar in die graf vertel van u troue liefde?

Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?

13Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,

u redding in die land van vergetelheid?

14Ek roep na U om hulp, Here,

vroeg in die môre al bid ek tot U.

15Waarom verstoot U my, Here,

waarom trek U U van my af terug?

16Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.

Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.

Ek weet geen raad meer nie.

17U toorn rus op my,

U tref my met skrik en vernietig my.

18Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,

dit sak op my toe van alle kante af.

19U laat my vriende en my bure ver van my af staan,

die duisternis van die dood is my geselskap.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help