JOB 18 - Afrikaans 1983

Bildad: Die onheil wag die goddelose in

1Toe sê Bildad die Suagiet vir Job:

2“Hoe lank gaan jy nog aanhou praat?

Kom eers tot ander insigte dan kan ons verder praat.

3Waarom word ons as diere beskou?

Is ons dan so dom in jou oë?

4Jy is soos iemand wat homself in sy woede verskeur.

Moet alle mense van die wêreld af verdwyn om jou tevrede te stel?

Moet die rotse uit hulle plek losgeruk word?

5“Die goddelose se lig sal beslis uitgedoof word,

die vlam van sy vuur sal ophou brand,

6die lig in sy huis sal doodgemaak word

en die lamp langs hom uitgedoof word.

7Sy kragtige treë sal al onsekerder word,

sy slim planne sal hom tot 'n val bring.

8Hy sal aan sy voete gevang word deur 'n strik,

hy sal in 'n valstrik inloop.

9'n Wip sal hom aan die hakskeen vang,

'n vangnet sal hom vasgryp.

10'n Lus is vir hom op die grond weggesteek,

daar is 'n vanggat op sy pad.

11Hy word van alle kante af met gevaar bedreig,

dit volg hom net waar hy gaan.

12Die onheil wag hom gretig in,

die ongeluk wag vir hom.

13'n Dodelike siekte sal sy vel wegvreet

en sy liggaamsdele verteer.

14Hy sal uitgeruk word uit sy veilige huis,

hy sal weggelei word na waar die groot vrees heers.

15Niks wat hy het, sal in sy woning oorbly nie,

oor sy woonplek sal brandende swael gestrooi word.

16Sy wortels sal van onder af verdroog

en sy blare bo verlep.

17Elke herinnering aan hom sal van die aarde af verdwyn,

sy naam sal nêrens meer bekend wees nie.

18Hy sal uit die lig die duisternis in gestoot word,

hy sal uit die bewoonde wêreld verjaag word.

19Hy sal geen kind of nakomeling

onder sy mense hê nie,

en daar sal niemand in sy woonplek oorbly nie.

20Oor sy lot sal die mense van die ooste en die weste

die hande van verbasing saamslaan en met vrees vervul wees.

21Só sal dit gaan met die huis van die slegte mens,

só sal die plek lyk van iemand wat nie vir God erken nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help