JESAJA 14 - Afrikaans 1983

1Die Here sal Hom ontferm oor Jakob, Hy sal Israel weer sy volk maak en hulle weer in hulle eie land laat woon. Vreemdelinge sal by hulle aansluit en hulle vereenselwig met Jakob.

2Ander volke sal hom vat en in sy land bring. Hulle sal Israel se eiendom word, slawe en slavinne in die land van die Here. Israel sal dié gevange hou deur wie hy gevange weggevoer is, en hy sal heers oor dié wat hom onderdruk het.

3Die dag wanneer die Here vir jou rus gee van jou lyding en jou verdrukking en van die slawewerk wat jy moes doen,

4sal jy hierdie spotlied oor die koning van Babel sing:

Die verdrukker se einde het gekom,

die lyding wat hy veroorsaak het,

is op 'n end.

5Die Here het die heerskappy van die goddeloses verbreek,

die mag van die oorheersers.

6Die verdrukker het in sy gramskap volke getref

met straf wat nie opgehou het nie,

hy het in sy toorn nasies vertrap,

hulle sonder medelye agtervolg.

7Die hele aarde het nou rus en vrede,

sy inwoners juig en sing.

8Selfs die sipresse en die seders op die Libanon

is bly oor wat met jou gebeur het, Babel.

Hulle sê: “Vandat jy verslaan is,

klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie!”

9Die doderyk daaronder kom in beroering

omdat jy soontoe kom.

Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak,

almal wat leiers op aarde was;

almal wat konings van nasies was,

moet van hulle trone af opstaan.

10Almal begin praat, hulle sê vir jou:

“Jy is nou net so swak soos ons,

jy het soos ons geword!”

11Jy het met jou hoogmoed,

met die klank van jou harpmusiek en al

in die doderyk beland.

Jy lê tussen die maaiers,

jy is oortrek van die wurms.

12Jy wat die helder môrester was,

het uit jou hemel geval.

Jy wat 'n oorwinnaar van nasies was,

is in die grond in verpletter.

13En dit jy, jy wat gedink het:

ek klim op hemel toe,

ek gaan my troon neersit

bokant die hoogste sterre,

ek gaan my plek inneem op die berg

waar die gode mekaar ontmoet,

ver in die noorde;

14ek klim op tot bokant die wolke,

ek word soos die Allerhoogste self.

15Maar jy stort af in die doderyk,

af tot in sy diepste deel.

16Dié wat jou daar sien, sal jou aangaap,

hulle sal jou bekyk en vra:

“Is dit die man wat die aarde laat bewe het,

wat koninkryke laat wankel het,

17die man wat die wêreld onbewoon gemaak het

en die stede vernietig het,

die man wat sy gevangenes nie vrygelaat het

om terug te gaan huis toe nie?”

18Al die konings van die nasies

is met eer begrawe,

elkeen in sy eie graf.

19Maar jý word nie begrawe nie, jy word weggegooi

soos 'n boomtak wat klaar vrot is.

Jy lê toe onder die lyke

van dié wat doodgesteek is.

Jy is soos dooie aas wat vertrap word.

Ander word begrawe in grafte in die rots,

20maar jy word nie begrawe nie,

want jy het jou eie land verwoes

en jou eie mense laat doodmaak.

Die naam van 'n skurk word nie in gedagtenis gehou nie.

21Maak reg die plek om sy seuns dood te maak

oor die sondes van hulle voorgeslag,

dat die seuns nie die aarde in besit kan neem

en die wêreld vol stede bou nie.

22Ek sal hulle aanval,

sê die Here die Almagtige.

Ek sal maak dat die gedagtenis aan die koning van Babel verdwyn,

dat daar niks van hom oor is nie,

nie een enkele afstammeling nie, sê die Here.

23Ek maak sy land 'n blyplek vir uile, 'n rietmoeras.

Ek vee Babel weg met 'n besem wat verwoes,

sê die Here die Almagtige.

Teen Assirië

24Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê:

Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees,

wat Ek besluit het, sal gebeur.

25Ek sal die Assiriërs verpletter in my land,

hulle op my berge vertrap.

Die juk wat op my volk gedruk het, sal weggevat word,

die las wat Assirië hulle laat dra het, sal verwyder word.

26Dit is die besluit wat vir die hele aarde geneem is,

my hand is klaar uitgesteek teen al die nasies om hulle te oordeel.

27Die Here die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel?

Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer?

Teen die Filistyne

28In die jaar van koning Agas se dood is hierdie uitspraak gemaak:

29Julle Filistyne moenie almal so bly wees

dat die stok waarmee julle geslaan is, verbreek is nie,

want in die plek van die een slang kom 'n giftiger een,

en uit dié se eier kom daar 'n vlieënde draak.

30Die armstes in Israel sal iets hê om te eet,

sý behoeftiges sal veilig woon,

maar julle Filistyne se nageslag laat Ek van honger sterf,

wat van julle oor is, word deur die honger verteer.

31Huil, poorte! Skreeu, stede!

Smelt weg, Filistyneland!

Daar kom rookwolke uit die noorde,

die vyand se manskappe kom aan, almal in gelid!

32Wat sal 'n mens die boodskappers van dié nasie antwoord?

Die Here het vir Sion tot stand laat kom,

sy geteisterde volk vind daar skuiling!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help