JOB 13 - Afrikaans 1983

1Ek het dit alles met my eie oë gesien

en met my eie ore gehoor en ek het dit verstaan.

2Wat julle weet, weet ek ook,

ek staan nie vir julle terug nie.

3Maar ek wil eintlik met die Almagtige praat,

ek wil my saak aan God stel.

4Julle stapel die een leuen op die ander,

julle is kwaksalwers, julle almal.

5As julle maar liewer net wou stilbly,

sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word.

6“Luister na my kant van die saak,

neem my argumente in ag:

7Wil julle vir God intree met onreg

en sy saak bepleit met leuens?

8Wil julle vir Hom partydig wees?

Wil julle God se saak verdedig?

9As Hy julle sou ondersoek,

sou dit vir julle goed verloop?

Sou julle Hom kon bedrieg soos julle mense bedrieg?

10Hy sal julle swaar straf

as julle in die geheim partydig is.

11Sy verhewe mag sal julle met skrik vervul,

skrik vir Hom sal julle oorval.

12Julle beroep op die voorgeslag is wind,

julle verweer sê niks.”

Job: Ek moet my saak vir God stel

13“Bly liewer stil, ek wil praat,

en laat dan kom wat wil.

14Waarom waag ek my lewe

en neem ek dit in my hand?

15Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie,

ek moet my saak vir Hom stel.

16Dit kan selfs my redding wees,

want geen godlose durf voor Hom kom nie.

17Luister goed na my woorde, neem ter harte wat ek te sê het:

18Kyk, ek het my regsaak voorberei,

ek weet dat ek reg het.

19As iemand 'n saak teen my het,

sou ek swyg en sterf.

20U, my God, moet net twee dinge vir my doen,

dan sal ek nie vir U wegkruip nie:

21neem u straf van my af weg

en moenie dat die skrik vir U my oorval nie.

22“Roep my, en ek sal antwoord,

of anders, laat ék praat en antwoord Ú my:

23Hoeveel misdade en sondes het ek begaan?

Wys my wat my oortredings en my sondes is!

24Waarom vermy U my

en beskou U my as u vyand?

25Wil U 'n verwaaide blaar skrikmaak,

'n droë stoppel agtervolg

26dat U so 'n bitter lyding vir my beskik

en my laat boet vir die sondes van my jeug?

27U bind 'n blok aan my voete,

U hou elke voetstap van my dop,

U merk my, waar ek ook al gaan.

28“En dít 'n mens wat vergaan soos iets wat verrot,

soos 'n stuk klere wat deur motte gevreet is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help