PSALMS 32 - Afrikaans 1983

U het my skuld vergewe

1'n Gedig van Dawid.

Dit gaan goed met die mens

wie se oortredings nie gestraf word nie,

wie se sonde vergewe word.

2Dit gaan goed met die mens

vir wie die Here die oortreding nie toereken nie

en in wie se gees daar geen valsheid is nie.

3Toe ek oor my sonde geswyg het,

het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.

4U hand het dag en nag swaar op my gedruk,

my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela

5Toe het ek my sonde bely,

my oortreding nie weggesteek nie.

Ek het gesê:

“Voor die Here bely ek my opstandigheid;”

en U het my skuld vergewe. Sela

6Dit is waarom elke gelowige in 'n tyd van nood tot U bid;

selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.

7U is vir my 'n skuilplek,

U beskerm my teen aanvalle,

U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

8Ek wil jou onderrig

en jou die pad leer wat jy moet volg.

Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

9Moenie onverstandig wees nie, soos 'n perd of 'n muil

wat met 'n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.

10Die goddelose het baie smarte,

maar wie op die Here vertrou,

dié omvou Hy met sy liefde.

11Verbly julle in die Here en juig, regverdiges,

jubel, alle opregtes.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help