PSALMS 85 - Afrikaans 1983

U was goed vir u land

1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2U was goed vir u land, Here,

U het aan die nageslag van Jakob 'n nuwe toekoms gegee;

3U het u volk sy sonde nie toegereken nie,

hom al sy skuld kwytgeskeld. Sela

4U het u woede laat bedaar,

u gloeiende toorn laat afkoel.

5Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser,

moet tog nie langer op ons toornig wees nie!

6Sal U dan altyd vir ons kwaad bly?

Sal U dan u toorn van geslag tot geslag laat voortduur?

7Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak

sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?

8Laat ons u troue liefde belewe,

skenk ons u reddende hulp, Here.

9Ek wil luister na wat God die Here sê,

want sy woord bring vrede vir sy volk,

vir dié wat Hom getrou dien.

Hulle moet net nie weer afdwaal nie.

10Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:

Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.

11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,

geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;

12trou sal uit die aarde uit opspruit,

geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.

13Die Here sal voorspoed skenk

en ons land sal sy oes gee.

14Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan

en 'n pad maak vir sy koms.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help