SEFANJA 3 - Afrikaans 1983

Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie

1Ellende wag vir Jerusalem,

die opstandige, besoedelde stad

waarin daar soveel verdrukking is.

2Hy is ongehoorsaam

en wil hom nie laat teregwys nie,

hy vertrou nie op die Here nie

en dien nie sy God nie.

3Die amptenare in die stad is brullende leeus;

sy regters is wolwe wat snags aas soek

en tot die môre toe nie genoeg kry om aan te knaag nie;

4sy profete is roekelose, trouelose mense;

sy priesters ontwy wat gewyd is

en doen die wet van die Here geweld aan.

5In dié stad is die Here die regverdige,

net Hy doen nie onreg nie.

Hy gee môre vir môre sy beslissing;

sy beslissing bly nie een dag uit nie

en tog ken dié wat onreg doen, geen skaamte nie.

6Ek het nasies uitgeroei,

hulle vestings is vernietig.

Ek het hulle paaie verlate gemaak,

sonder iemand wat daar loop.

Hulle stede is verwoes, daar is niemand nie,

nie een inwoner nie.

7Ek het gedink Jerusalem sal nou vir My ontsag hê

en hom laat teregwys,

sodat sy woonplek nie vernietig word

en al my straf hom tref nie.

Maar hy het gretig bly sondig

met alles wat hy doen.

8Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here,

wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat.

Ek het besluit om nasies bymekaar te maak,

koninkryke saam te roep

en op hulle my gramskap uit te stort,

die volle gloed van my toorn:

die hele aarde sal verteer word

in die vuur van my woede.

9Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak,

sodat hulle almal My sal aanroep

en soos een man My sal dien.

10Van anderkant die riviere van Kus af

sal dié wat My vereer, my verstrooide volk,

vir My geskenke bring.

11Daardie dag sal jy nie meer rede hê om jou te skaam

dat jy opstandig teen My was met alles wat jy gedoen het nie,

want Ek gaan uit jou uithaal

dié wat hulle so verheug het in jou hovaardigheid;

jy sal nie meer vol hoogmoed wees

daar op my heilige berg nie.

12Ek sal in jou laat oorbly net dié

wat nederig en ootmoedig is

en vertrou op die Naam van die Here.

13Dié wat van Israel oorgebly het,

sal nie onreg doen nie

en nie lieg nie;

daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie.

Hulle sal 'n kudde wees wat wei en gaan lê en rus

sonder dat iemand hulle skrikmaak.

Ek gee aan julle roem en eer

14Sing, Sion! Juig, Israel!

Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!

15Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf,

Hy het jou vyande laat padgee.

Die Koning van Israel, die Here, is by jou;

jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

16Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word:

Moenie bang wees nie, Sion,

moenie jou hande moedeloos laat hang nie!

17Die Here jou God is by jou,

Hy, die krygsman wat red.

Hy is vol vreugde oor jou,

Hy is stil-tevrede in sy liefde.

Hy jubel en juig oor jou:

18Ek maak dié bymekaar wat treur,

ver van die feestelikheid af,

dié wat uit jou uit kom

en ter wille van jou die smaad gedra het.

19Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,

Ek gaan die kreupeles help,

die verstrooides bymekaarmaak

en die vernedering wat hulle moes ondergaan,

in eer verander, in roem oor die hele aarde.

20Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom,

maak Ek julle bymekaar

en gee Ek aan julle roem en eer

onder al die volke op aarde;

dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,

julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help