PSALMS 21 - Afrikaans 1983

Die koning vertrou op die Here

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Here, dit is oor die openbaring van u mag

dat die koning so bly is,

dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het,

dat hy so jubel en juig.

3Die wens van sy hart het U vervul.

Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie. Sela

4U skenk hom voorspoed en geluk,

U plaas 'n goue kroon op sy kop.

5Lewe het hy van U gevra;

U het hom dit gegee – 'n lang, lang lewe.

6Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien,

met roem en eer het U hom oorlaai.

7U maak hom altyd voorspoedig,

U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid.

8Die koning vertrou op die Here

en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie.

9U hand sal al u vyande vind,

u regterhand sal u haters tref.

10Wanneer U verskyn, Here,

sal U hulle verteer soos in 'n oond.

In u toorn sal U hulle vernietig,

en die vuur sal hulle verteer.

11U sal hulle kinders van die aarde af verdelg

en die mensheid verlos van hulle nageslag.

12As hulle kwaad teen U beraam,

bose planne uitdink,

sal hulle niks uitrig nie.

13Wanneer U met die boog na hulle mik,

slaan hulle op die vlug.

14Laat u mag seëvier, Here,

dan sal ons u krag besing en daaroor roem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help