JESAJA 50 - Afrikaans 1983

Julle is oor julle sondes verkoop

1So sê die Here:

Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het

toe Ek van haar geskei het?

Of aan wie het Ek geld geskuld

dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het?

Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is,

oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het.

2Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie?

Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie?

Is Ek nie in staat om te verlos nie,

het Ek nie die krag om te red nie?

Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op.

Ek laat riviere opdroog:

die visse stink, daar is nie water nie,

hulle vrek sonder water.

3Ek maak die hemel donker,

Ek trek vir hom rouklere aan.

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

5Die Here my God het my geleer om te luister:

ek was nie teen Hom opstandig nie,

ek was nie ontrou aan Hom nie.

6Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan,

my wang vir dié wat my baard uittrek.

Ek het my gesig nie weggedraai

toe ek bespot en bespoeg is nie.

7Die Here my God help my,

ek sal nie teleurgestel staan nie;

ek sal my nie ontstel nie,

ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.

8Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby;

wie wil 'n aanklag teen my inbring?

Laat ons elkeen sy saak stel.

Wie wil my aankla?

Laat hom vorentoe kom.

9Die Here my God help my;

wie sal my dan skuldig verklaar?

Dit is verby met almal wat my beskuldig,

soos met 'n lap wat deur motte gevreet word.

10Wie van julle dien die Here

en luister na sy dienaar?

Wie in die donker loop

en geen lig sien nie,

moet op die Here vertrou,

moet op sy God steun.

11Maar julle wat vure aansteek,

wat brandpyle gereed maak,

julle sal in julle eie vuur brand,

deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand.

Dit is my mag wat dit oor julle bring,

julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help