AMOS 1 - Afrikaans 1983

Opskrif

1Die woorde van Amos, 'n skaapboer uit Tekoa. Hy het oor Israel 'n gesig gesien tydens die regering van koning Ussia van Juda en koning Jerobeam van Israel, seun van Joas. Dit het twee jaar voor die aardbewing gebeur.

2Amos het gesê:

Wanneer die Here uit Sion brul,

wanneer Hy sy stem uit Jerusalem laat hoor,

verdor die weivelde van die herders

en verdroog die top van Karmelberg.

Teen Damaskus

3So sê die Here:

Selfs as Damaskus net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hy het vir Gilead met skerp ysters gemartel.

4Daarom sal Ek in die paleis van Gasael 'n vuur laat losbreek

en dit sal die mooi huise van Ben-Hadad verteer.

5Ek sal die grendels van Damaskus stukkend breek,

die inwoners van Bikat-Awen

en die regeerder van Bet-Eden uitroei.

Die Arameërs sal in ballingskap na Kir toe weggevoer word,

sê die Here.

Teen die Filistyne

6So sê die Here:

Selfs as Gasa net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hy het mense voor die voet as ballinge weggevoer

en aan Edom uitgelewer.

7Daarom sal Ek binne die mure van Gasa 'n vuur laat losbreek

en dit sal sy mooi huise verteer.

8Ek sal die inwoners van Asdod

en die regeerder van Askelon uitroei.

Ek sal my hand teen Ekron oplig,

en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom,

sê die Here my God.

Teen Tirus

9So sê die Here:

Selfs as Tirus net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hy het mense voor die voet as ballinge aan Edom uitgelewer

en nie aan die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie.

10Daarom sal Ek binne die mure van Tirus 'n vuur laat losbreek

en dit sal sy mooi huise verteer.

Teen Edom

11So sê die Here:

Selfs as Edom net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek sy straf nie herroep het nie.

Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hy het die Israeliete, sy broers, agtervolg met die swaard

en die broederliefde verloën,

hy het hulle in sy toorn verskeur,

sy woede het bly kook.

12Daarom sal Ek in Teman 'n vuur laat losbreek

en dit sal die mooi huise van Bosra verteer.

Teen die Ammoniete

13So sê die Here:

Selfs as die Ammoniete net drie keer sonde gedoen het,

sou Ek hulle straf nie herroep het nie.

Maar nou het hulle 'n vierde sonde daarby gevoeg:

hulle het swanger vrouens in Gilead oopgesny

en hulle eie gebied uitgebrei.

14Daarom sal Ek binne die mure van Rabba 'n vuur aansteek

en dit sal sy mooi huise verteer.

Dié dag sal daar geskreeu word

en sal daar oorlog wees, 'n storm, 'n orkaan.

15Hulle koning sal in ballingskap weggevoer word,

hy en sy amptenare saam met hom,

sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help